AMERIKA – Anne McClain, ’n NASA-ruimtevaarder, word vir die eerste oortreding in die buitenste ruimte aangekla, nadat sy toegang tot haar vervreemde vrou se bankrekening verkry het.
Luidens berigte deur Phys.org, ’n aanlyn-wetenskaplike tydskrif en die New York Times, word McClain van identiteitsdiefstal en onregmatige toegang beskuldig. Sy het glo tydens haar ses maande missie aan boord die internasionale ruimtestasie (ISS) ongemagtig toegang tot haar eggenoot, Summer Worden, se bankrekening verkry.
Worden het vroeër vanjaar ‘n klag by die federale handelskommissie (FTC) ingedien. Volgens berigte het Worden se familie nog ’n klag by die kantoor van die inspekteur-generaal van NASA ingedien.
Volgens McClain se prokureur het die ruimtevaarder niks verkeerd gedoen nie. Sy sê sy het bloot hulle gesamentlike finansies gemonitor. Dit is iets wat sy in die loop van hul verhouding gedoen het, het die Times berig.
McClain het in Junie na die aarde teruggekeer. Sy het bekendheid verwerf omdat sy een van twee vrouens is wat vir ‘n geskiedkundige ruimtewandeling gekies was, maar NASA het die beplande gebeurtenis in Maart weens ‘n gebrek aan ruimtepakke geskrap.
Worden het gesê die FTC het nie op die verslag oor die indentiteitsdiefstal gereageer nie, maar het bevestig dat ‘n ondersoeker wat spesialiseer in kriminele sake by die kantoor van die inspekteur-generaal van NASA die aanklagtes ondersoek.



