Lena se lot – Episode 8. Geskryf deur Eric R Kok

Deel hierdie storie / Share this story

Episode 8: Die poppe dans

André begin kook van woede. Die nuuskierige vroumense kom druk hulle se neuse in by sy huislewe. Lena is sy vrou en hy kan maak met haar nes hy wil.

André gee vinnig ‘n paar treë tot by Bettie en mik na haar gesig met sy oop hand.

“Jy is die bontetjie neh. Ek klap jou deur jou gevreet.”

Bettie spring weg en skreeu.

Mavis swaai haar pan. André koes en die hou mis sy kop.

“Hey Antie…” sê hy verskrik.

“Antie se voet!” Mavis is kwaai. Sy swaai weer woes met die pan.

André spring terug na die stoep toe en net toe hy weer wil dreig, tref ‘n hou hom teen sy oor.

“EINA!” gil hy uit in pyn.

Bettie kom nader met haar klip.

“Slaat hom Mavis. Slaat die vark.”

André hou sy oor vas en gee vir Mavis ‘n lelike kyk.

“Jy. Ek gaan jou wys. Wag net, hie ek gaan julle almal ‘n ding wys.”

André draai om en verdwyn haastig met ‘n klomp vloekwoorde in die huis.

“Sies.” sê Mavis.

Boeboe, wat die hele drama met ‘n glimlag aanskou het, beweeg na Lena toe wat nog op die stoep lê. Boeboe kniel by haar.

“Lena is jy orraait?”

Lena snik en lig haar kop op. Sy kyk met trane in haar oë na Boeboe.

“Julle maak dinge net erger,” sê sy.

“Los ons net uit en hou op in ander mense se huislewe inmeng. Asseblief.”

Mavis raak opstandig.

Sy laat sak haar pan.

“Ons kom help jou en jy praat sulke twak. Lyk vir my jy laaik dit neh…”

Bettie gooi die klip weg en help vir Lena op.

“Sy is nog deurmekaar…kom vriendin, jy kan vanaand by my kom slaap…”

Lena stoot vir Bettie weg.

“Nee. Los my uit. Almal van julle.”

Die drie ander vrouens kyk verbaas na Lena. Bettie se mond hang oop.

“Loop julle net asseblief voor André…”

“HEY, IS DIE HEKSE NOG STEEDS HIERSO?”

André verskyn kaalbors in die voordeur met ‘n graaf. Die geraas het van die straat se mense uit hulle huise laat kom. Van hulle loer deur die vensters terwyl die ander op hulle stoepe staan en kyk.

Bettie draai om en sien die graaf raak.

Sy klap haar boude.

“Hoe! Ek wag jy moet my kan raak met daai graaf.” .

André kom nader. Bettie kyk vir Mavis, maar Mavis loop stadig agteruit. As Mavis weghardloop, dan moet sy ook maar maak dat sy wegkom, anders maak die mal man hulle almal vrek.

“Oompie, kry jy nie skaam om so aan te gaan nie?”

Mavis en Bettie kyk vir Boeboe wat haar arms vou.

“Boeboe, los dit asseblief…” probeer Lena keer.

“Nee Lena, dit kan nie so aangaan nie. Jinne, is bietjie tyd dat jy opstaan teen die man.”

“Hy’s my man en ek is lief vir hom.”

Mavis trap vas in haar spore. Lena se woorde pla haar.

“Kyk hier my ding, as liefde so lyk, dan weet ek nie. Die man abuse jou…”

“Hey voetsek jy Antie.” André dreig met sy graaf.

Bettie tel weer haar klip op.

“Onbeskof,” voeg sy vinnig by.

André gryp vir Boeboe en stoot haar van die stoep af. Sy trap mis en val in die grond.

“Kom. Kom laat julle gegaan het.”

Mavis vlieg vorentoe.

“Hey! Jy los my kind uit!”

Voordat André nog kan keer, slaan Mavis hom oor sy kop. Twang!

“EINA!”

Mavis slaan weer. Twang! Teen sy skouer.

Hy los die graaf en gryp die pan. Mavis trek terug, maar hy is sterker en ruk die pan uit haar hande.

Bettie gooi haar klip.

Mis. Dit tref die muur. Sy soek weer haastig vir nog ‘n klip.

Mavis, wat haar pan verloor het, koes vir André wat haar net-net mis slaan.

Bettie gooi weer en haar klip tref die pan.

Lena probeer die baklei stop.

“Hou op. Hou op…”

Boeboe, wat opgestaan het, tel ook klippe op en gooi. Die eerste klip tref vir André teen sy hand. Hy vloek en kom nader. Die tweede klip tref sy been. Bettie soek steeds vir ‘n klip. Vanaand gooi sy vir André vir al die pak slae wat Lena moes verduur. Sy krap in die grond rond en kry ‘n lekker skerp klip.

“Hou op. Hou op!” skreeu Lena en waai haar arms. Sy spring in die middel net toe Bettie met al haar mag lostrek en gooi. Die klip tref vir Lena agter haar kop. Sy kreun en hou haar kop vas. Toe sy haar hand wegvat, is dit vol bloed. Almal hou verskrik op met baklei en kyk na Lena. Bettie hou geskok haar hand voor haar mond.

Lena sak grond toe.

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.