Lena se lot – Episode 9. Geskryf deur Eric R Kok

Deel hierdie storie / Share this story

Episode 9: Drama

Lena sak soos ‘n lappop inmekaar en lê doodstil.

Vir ‘n oomblik staan almal geskok.

Bettie breek die stilte en laat ‘n gil uit.

“LENAAAA! NEE! NEE TOG!”

Boeboe kry ook lewe en hardloop na Lena toe.

Sy en Bettie kniel terselfdertyd by haar. Bettie begin te huil.

“Ek het dit bedoel nie… Ai jinne tog…”

André se gesigsuitdrukking verander. Sy oë word vir ‘n kort oomblik sag, so asof hy dit wat gebeur het proses en toe ontplof hy.

“Hey! Jou blerrie heks!” Hy laat val sy wapens en haal sy woede uit op die vrouens.

“Julle hekse het my vrou seergemaak. Ek gaan julle vrek maak…” Maar André se aksies is die teenoorgestelde. Hy loop tot waar Bettie en Boeboe by Lena kniel en stoot hulle albei van haar af weg.

“Gaan weg. Gaan net weg hierso, man…”

Mavis, wat nog op een plek staan, is meteens verbaas. Sy draai haar kop skuins.

André huil… Trane stroom langs sy gesig af.

’n Polisiesirene kondig luidkeels aan dat iemand – seker van die nuuskierige aanskouers – die gereg gebel het.

André sit sy arms om Lena.

“Julle gaan sien. Julle gaan almal sien.”

Rooi en blou ligte verf die straat in ‘n somber kleur.

Toe die polisiebakkie voor André se huis stilhou, kom ‘n hele klomp van die mense nader om beter te kan sien wat aangaan.

Twee polisemans klim uit. Dis dieselfde twee van vroeër die oggend.

André herken hulle en spring op.

“Asseblief Menere, dankie dat julle gekom het…” André wys na die vrouens.

“Die barbare het vir my en my vrou aangerand.” Hy wys na Lena wat nog bewusteloos op die grond lê.

Mavis raak net daar oproerig.

“Hey, duiwel! Moenie stront praat nie, ons het jou…”

“Meneer, dit was nie ekke nie… ek het nie bedoel nie…” Bettie hou haar kop vas en begin huil.

Die breë polisieman kom ernstig nadergestap.

“Wat het hier gebeur?”

Mavis en Boeboe begin terselfdertyd probeer verduidelik.

“Shut up. Shut up!” beveel Van Rooyen.

“We were called here to stop a street fight. Now I want to know what happened here.”

André gryp die geleentheid aan en nog voor Mavis kan iets sê, begin hy te praat.

Hy vee ‘n traan wat langs sy wang afloop weg en lyk diep bedroef. Hy’t agtergekom Van Tonder is die Afrikaanssprekende en fokus op hom.

“Meneer sien. Die vrouens het hier aangekom met wapens om my vrou aan te rand en toe ek hulle mooi vra om te loop, toe…”

Boeboe se oë rek in ongeloof.

“Hy lieg! Die man lieg Meneer…”

Mavis kan haar woede ook nie meer keer nie. Sy lig haar hand en gee vir André ‘n harde klap agter Sy kop.

“Donnerse liegbek!” skreeu sy.

André steier vorentoe.

“Mevrou, gedra jouself,” waarsku Van Tonder.

“Hy lieg, man…” Mavis maak reg vir nog ‘n klap en André koes.

“Sien julle nou?” roep André uit en koes weer.

“Ek gaan jou wys wat is aanrand!” Mavis kry vir André aan sy oor beet.

“EINA! EINA!”

“Ma’m, if you do not behave, I will use force.” Van Rooyen gryp na sy pepper spray.

Mavis luister niks en klap en krap aan André wat probeer loskom. Bettie gaan weer aan die huil en Boeboe probeer om haar ma te keer.

Die skare wat die hele gedoente aanskou, begin te lag.

Toe ewe skielik voel Mavis hoe haar oë verskriklik begin te brand en iets skerp krap haar keel. Sy hoes en proes en probeer asem kry.

“I warned you. Now stop this nonsense immediately!” Van Rooyen staan en dreig met sy pepper spray.

Boeboe los haar ma en begin ook te hoes.

“I am placing you all under arrest for disorderly conduct and public violence.”

André vryf sy oë.

“Maar Meneer, ek het niks gemaak…”

“Haai shut up. Jy kan daarvoor gaan verduidelik.”

Van Tonder boei vir André en druk hom in die bakkie. Hy draai na Mavis en sy trek haarself reg.

“Ek sal self inklim.”

Boeboe volg haar ma.

Van Tonder help vir Bettie op wat nog steeds huil.

“Ek hettie bedoel om my vriendin seer te maak nie Meneer…” Haar skoene bly agter en sy klim kaalvoet in die bakkie.

Van Rooyen kyk na Van Tonder.

“You go on ahead. I’ll wait here for the ambulance.”

Hy draai en gee ‘n kwaai kyk na die skare wat nou erger skaterlag.

“That concludes the entertainment for tonight. Thank you.”

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.