Episode 7: Die poppe gaan dans
Bettie bars by die voordeur in en sien vir Koos wat in die donker sitkamer op die sofa lê en snork .
“Koos, kom help tog.”
Sy pluk aan sy skoen.
Hy draai in sy slaap om.
“KOOS!” skreeu Bettie en ruk en pluk aan sy been. Koos skrik wakker, maar hou sy oë toe.
“Hey hey man, kaman!”
“Kom help tog. André is besig om vir Lena te vermoor…”
Koos snork.
“Nou wat moet ek maak?”
Koos draai om en snork weer verder.
Bettie raak desperaat. Koos se selfoon. Sy moet die polisie bel.
“Waas jou phone Koos?… Koos.”
Sy kry weer sy skoen beet en trek.
Koos probeer los woel en Bettie trek sy skoen uit.
“Los my man dêmmit!” skreeu hy terug.
“Useless. Wat my besiel het om vir jou te trou Koos Jansen…” Koos snork alweer.
Bettie draai radeloos weg van Koos af en hou haar kop vas.
Wie kan tog help?
Boeboe.
Die skrik het vir Bettie heel deurmekaar gemaak dat sy skoon vergeet van Boeboe. Sy is Lena se neighbor wat net oorkant bly.
Hulle moet die polisie bel.
Bettie draf vinnig af in die kort gang en stoot saggies die deur oop.
Haar twee engeltjies is vas aan die slaap.
Bettie draai weer op haar hak om en gaan vinnig na haar kamer toe om skoene aan te trek.
Uit by die hek en sy drafstap dat die sweet haar aftap. Boeboe se ligte brand nog.
Bettie het eenkeer by Boeboe bietjie suiker gaan leen toe sy haar ma, auntie Mavis, by die huis gekry het. Die suinige, hoogmoedige antie wou nie eers vir haar ‘n halwe koppie suiker leen nie. Bettie skud haar kop aan die gedagte. Sy is nie lus vir Mavis nie, maar sy het geen keuse nie, haar beste vriendin se lewe is in gevaar.
Bettie draai in by die hek en sien die kombuisvenster se gordyn gaan vinnig toe. Iemand het die hele tyd geloer.
Bettie klim vinnig die stoeptrap. By die voordeur skep sy eers asem.
Klop. Klop. Klop. Klop.
“Boeboe…”
Geen antwoord.
Sy hoor sagte stemme binne die huis. Dit klink of die mense stry.
Bettie klop weer hard aan die houtdeur. Dit voel of sy haar nerwe af klop.
Die deur gaan skielik oop en Boeboe verskyn.
Auntie Mavis staan ‘n entjie weg agter haar in die kombuis en ondersoek vir Bettie met haar oë.
“En nou Bettie… As jy so lyk?” vra Boeboe.
Bettie is steeds uitasem toe sy praat.
“Kom keer julle tog die bloed!”
Mavis spring nader.
“Wat gaan aan?” vra Mavis.
Bettie se keel brand. Sy sluk spoeg.
“Ek en Lena het so lekker gesit toe kom die duiwel daar aan en slaan haar…”
Boeboe kyk na Mavis.
“My Ma, kom ons gaan help.”
Mavis lyk onseker.
“Jong, is nie ons se besigheid nie…”
“My Ma…” sê Boeboe ernstig.
“Is tyd dat ons dit ons se besigheid maak.”
Bettie raak ongeduldig. Sy kyk oorkant na Lena se huis.
“Daar is nie tyd nie tog, bel die polisie asseblief.”
Boeboe gryp haar selfoon uit haar sak.
“Kom Bettie. Solank ek bel, kan ons gaan keer.”
Bettie kyk vir Mavis.
“Antie Mavis, kom help…”
Mavis staan met haar arms gevou.
“Kom,” sê Boeboe en trek vir Bettie. Hulle hardloop hek toe.
Net toe hulle die straat wil oorsteek, val Lena by die voordeur uit en probeer opstaan. André verskyn. Hy vloek en skel haar.
Bettie hardloop met arms wat waai.
“Hey. Hey André!”
André kyk op en vloek vir Bettie. Sy hou ‘n entjie weg stil met Boeboe kort op haar hakke.
“Ek gaan die polisie bel,” dreig Boeboe.
“Bel hulle. Ek hetie ‘n bang haar op my kop nie.”
Lena staan op en leun teen die muur. Sy is vol trane.
“Sies André. Jy is ‘n vrouslaner,” skel Bettie.
“Jy pomp hoeka my vrou vol vuil winde jy…”
André kom dreigend nader, maar stop skielik. Hy kyk na iets agter Bettie en Boeboe. Hulle kyk om.
Mavis kom kwaai aangestap en het ‘n groot pan in haar een hand.
“Hey. Ek wag dat jy weer daai vrou slaan, Meneer!”
Bettie tel ‘n klip op.
“Praat die dinge, Sister.”
André kom nader en wys na Mavis.
“Vir jou trap ek weg Auntie.”
Mavis dreig met die pan.
“Jy’s mos gewoond jy slaan vrouens. Sies!”
Mavis se bravade gee vir Bettie moed.
“Woman Abuse. Vanaand gaan die poppe bo op jou kop dans, Boeta!”
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.



