Episode 5: Sondaars
André en Koos se gunsteling-sokkerspan het baie swak gespeel tydens die wedstryd en die twee vriende het sommer voor die eindfluitjie geblaas het besluit om huis toe gaan. Dikbek stap hulle uit club Y-Not. Die straatligte wat nog werk, skyn ‘n dowwe lig oor die stofstraat.
“Ek sê jou man, is daai blerrie referee se skuld.”
André spoeg op die grond, skop ‘n klompie grond op sy spuug.
“As daai no 5 nie so stront aangevang het nie, het ons nog ‘n kans gestaan…”
Iewers brand ‘n tyre vuur en die lug raak stadig donker van die swart, stink rook.
Pauline is haastig op pad huis toe. Ouma Louw het dat sy lank sit en was dit nie vir die lekker scones nie, sou sy lankal geloop het. Dié kan verskriklik baie praat, maar sy bak die lekkerste soetgoed. Pauline voel aan haar handsak wat vol van die eetgoed is. Sy vat die draai in die kort straat wat sy niks van hou en sien die twee wat sing-sing in haar rigting kom. Sy skud haar kop en trek haar neus diep in die lug op.
Hulle het weer gekuier by Club Y-Not.
Pauline hou niks van die plek of die mense wat daar kuier. ‘n Samedromming van Roodepan se sondaars.
“Sies, kyk nou net die sonde wat hier aankom. Broer, jy is gedrink en jou vrou huil by die huis…”
Pauline skuif haar handsak reg.
André kyk mooi na waar die stem vandaan kom en sien die kerksister.
Hy hou niks van die skynheilige vroumens nie. Die skinderbek dink mos die son skyn uit haar agterent uit.
“Wat praat jy nou?” Hy wys na Pauline en kyk vir Koos.
“Wat praat die ene nou?”
Twee vroumense wat by ‘n huis uitkom, gaan staan voor die hek. Die drie het hulle aandag gegryp en nou staan en maak hulle of hulle kamma gesels. Hulle loer nuuskierig na André-hulle wat op die sypaadjie staan.
Koos slinger en probeer regop staan. Sy neus is rooi.
Hy windbreek.
“Sy soek seker ook bier.”
Pauline trek haar gesig.
“Sies.” Sy gee vir Koos ‘n skewe kyk en rig weer haar aandag op André.
“Ek praat van jou huisprobleme, broer Johnson. Dis manne soos julle wat julle eie uitmekaar breek.”
Koos slinger een tree terug.
“Hoe! Hou tog net vir my uit julle sê kerkgoeters uit asseblief Sister.”
Hy neem ‘n sluk van sy bier en vee sy mond met sy mou af.
“Ek sê maar net…” begin Pauline en hou die Bybel voor haar bors.
André se geduld raak op vir die lastige vroumens wat vir hom in die straat kom staan en uitskel.
“Hey! Is reeds valse kerkmense soos jy wat julle se lang neuse in ‘n mens se huisdinge druk.”
Pauline is lankal lus om vir André sy leviete voor te lees en besluit vanaand is die aand. Sy maak eers seker dat die twee vroumense hulle nog dophou.
“Sies. Jy moet jou skaam. Jy’s een verlore siel.”
André se oë blits van woede.
“Hou my bier…” sê André en gee sy bottel vir Koos wat dit net-net raak vat.
“Laat ek die vrou wys wat is ‘n verlore siel.”
André mik na Pauline met ‘n skop.
“Hey! Ek skop jou bek skeef.”
Pauline skrik so groot dat sy net daar omdraai en met ‘n gil weghardloop.
Koos begin te lag.
André draai om en vat sy bier.
“Die valse heks met haa skurwe hakke.”
André spoeg weer, maar dié keer skop hy nie grond oor sy spuug nie.
Koos vat weer ‘n sluk aan sy halfleë bottel.
“Sien jy André, is die nonsens wat ek praat.”
Die twee stap weer stadig huis toe en gesels oor hoe vandag se vroumense sleg is.
Dis al agtuur toe toe Lena die tyd kyk op die horlosie teen die kombuismuur. Sy het al lankal klaar gekook toe Bettie met haar kaarte kom kuier het. Wanneer die twee vriendinne eers besig is met hulle kaarte is daar geen ophou.
“Hey vriendin, ons moet ‘n laaste round speel voor die baas huis toe kom.”
Bettie neem ‘n slukkie aan haar glas wyn.
“Nee hoor nou. Jy’t my lekker gewen, nou wil jy skielik ophou.”
Lena het so ver net een glas van die drie liter boks wyn gedrink. Die oggend se gebeure laat die wyn bitter smaak. Bettie sluk al aan haar vyfde glas.
“Wat is dit nou?” vra Bettie.
Lena kom agter haar gedagtes hol weer weg met haar.
“Ag is niks,” lieg sy vinnig en tel haar glas op. Sy glimlag kamma, maar sien haar vriendin se bekommerde kyk.
Die deur bars skielik oop met ‘n harde slag
Bettie en Lena wip soos hulle skrik.
In die oop deur staan satan self. Bruin bottel in die een hand.
“JY!” bulder hy en wys na Lena.
“Jy bel mos die polisie vir my neh! Vanaand maak ek jou vrek!”
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.



