Duisende verkragtingstelle kort in Noord-Kaap, sê DA

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP –  Die DA in die Noord-Kaap het gesê daar is tans ‘n tekort van 3,203‬ verkragtingstelle vir die insamel van seksuele bewyse in die provinsie.

LP Priscilla Isaacs, DA-woordvoerder vir vervoer, veiligheid en skakeling in die Noord-Kaap, het in ’n persverklaring gesê die DA is baie bekommerd oor die tekort aan verkragtingstelle in die provinsie.

Skokkende statistieke is onlangs in die parlement blootgelê. Dit het aan die lig gekom dat die provinsie slegs 784 verkragtingstelle vir volwassenes in voorraad het, maar 2467 stelle word vereis, het Isaacs gesê. Net 432 pediatriese verkragtingstelle is beskikbaar, maar 1 952 word benodig.

Isaacs het gesê te midde van die groot vlaag geweldsmisdaad teen vroue en kinders, is dit aaklig om te weet ons polisiekantore het in werklikheid ‘n tekort aan 3 203 verkragtingstelle.

Dit is onaanvaarbaar en dit kan nie geduld word dat polisiekantore nie van die nodige toerusting voorsien word om slagoffers van seksuele misdrywe te help nie. 

Die versuim van die polisie om die nodige steun aan verkragtingslagoffers in die provinsie te verleen, is ongelukkig geen verrassing nie, het Isaacs gesê. Tot op die laaste bekende datum het ‘n aantal polisiestasies regdeur die distrikte nog nie slagoffer-vriendelike kamers gehad soos die wet vereis nie.

Die DA het gesê hulle gaan ’n brief rig aan Nontobeko Vilakazi, die LUR van veiligheid, om haar te vra om die tekorte op te volg.