Episode 2: Lena
Lena was vroeg op, besig om ontbyt te maak toe satan self by die kombuis inbars.
“Hey wat blerrie raas jy so vroegoggend? Jisas man!”
André staan soos ‘n kaalvoet besetene in die middel van die kombuis. Die vrolikheid wat in die kombuis was, verdwyn.
Lena maak asof sy nie hoor nie en breek nog ‘n eier in die pan. Sy ignoreer hom.
André kom nader en kyk na Lena met sy wilde oë.
“Is jy nou doof ha?”
Lena kyk na hom en sê steeds niks.
Die man. Die man. Sy skud haar kop.
‘Swyg satan, swyg!’ As sy hom kon wegwens.
“Ek maak vir jou brekvis.” Sy forseer die woorde uit haar mond. Lena skep die gebakte eier in ‘n bord en draai weer om na die warm pan.
“KOS!” bulder André.
“Is die nou kos? Ek soek gekookte kos, nou!”
Lena kan haarself nie meer inhou nie en kyk na die warm pan. Die gedagte wat deur haar kop gaan, laat haar omdraai met woede.
Is jy mal? Waa moet ek nou so vroeg staan en kos kook?”
Sy draai na die yskas en gooi die deur oop. Sy haal die groen Tupperware-bak uit met die vorige aand se gebakte hoender en slaan dit op die tafel neer. Doef!
Vir ‘n oomblik lyk dit asof André geskrik het. Hy kyk haar aan en dis duidelik dat hy soek na woorde. Hy lyk onseker.
“Hey, jy…Ek gaan jou…” Hy lig sy regtehand op.
Lena spring terug na die stoof se kant toe.
“Klap my. Jy’s mos gewoond André.”
Sy sê dit, maar bedoel dit nie, want André het ‘n paar reusehande.
Sy kyk vinnig na die warm pan.
Skielik voel sy hoe ‘n hand haar aan haar keel beetkry. Lena probeer keer, maar André ruk haar weg van die stoof af. Sy stamp teen die tafel en die bord val met kos en al op die vloer. Dit breek in stukkies met ‘n harde slag.
“Kyk nou wat maak jy. Simpel vroumens.”
André los haar.
“Jy beter die gemors optel.”
“Ek sal nie…”
Nog voordat Lena verder kan terugpraat, klap André haar. ‘n Skerp brandpyn skiet deur haar wang.
“Eina!” gil sy.
“Tel op daai gemors!”
Lena begin saggies huil en kniel by die glasstukkies. Die wors en eiers lê oral op die teëlvloer.
André draai om en stap sitkamer toe.
“En jy gaan kook, ek sê jou.” Hy gryp ‘n ou koerant op die koffietafel en gaan sit op sy lazy boy-stoel.
‘n Klop aan die voordeur onderbreek André wat opkyk en vererg iets onder sy asem brom. André ignoreer dit en begrawe weer sy krom neus diep in die sportartikel.
Weer ‘n klop aan die deur. Dié keer baie harder.
Hy vererg hom en laat sak die koerant.
“Wie de hel klop so aan my deur?”
‘n Harde, diep stem kom van buite.
“Is die polisie.”
André loer na die kombuis vir Lena wat besig is om die vloer te mop.
“Hey! het jy die polisie gebel?” roep hy in ‘n fluisterstem.
Lena skud haar kop.
“Nee, ek het nie, ek…”
André staan op en rol sy koerant.
“Laat ek kan uitvind. Ek maak vir jou vrek.” Hy dreig vir Lena met die opgerolde koerant.
“Gaan was af jou gevreet.”
André draai om en loer deur die venster. Twee hoë polisiemanne staan by die voordeur. Hy sug en maak die deur oop.
“Goeiemôre menere, hoe kan ek help?”
Die skraal, lang polisieman wat lyk of hy ‘n hoër rang het, praat.
“We received a phone call about a domestic dispute. Can we come in?”
André huiwer en kyk vinnig kombuis toe.
“Meneer, ek het skaars my skoene aangetrek en is nog so vroeg…”
Die polisieman druk verby hom en kom die sitkamer binne. Die ander breë een volg hom.
“Don’t worry, we won’t be long.”
Die breë een met die donkerbril kyk rond, so asof hy na iemand soek.
“Waar is jou vrou, Meneer?” vra hy in ‘n diep stem. Dis dieselfde stem wat vroeër geantwoord het.
André kyk vinnig na die gang en maak ongemaklik sy keel skoon.
“Sy uhm, sy het nou net in die bad geklim. Wil julle nie maar later terugkom nie?”
André bly stil en volg met sy oë na waar die polisiemanne se aandag gefokus is. Lena het verskyn en staan by die ingang.
“Môre Menere, is daar ‘n probleem?” vra sy ewe koel.
Die polisieman vou sy hande oor sy maag.
“Ja Mevrou, ons het ‘n oproep gekry dat u man jou slaan. Is dit so?”
André se oë rek en hy sluk. Hy praat sommer uit sy beurt uit.
“Wie ek? Nog nooit. Wie sê so…!??”
“Hey shut up! Speak when spoken to.” Die skraal polisieman gluur kwaai na André wat vinnig stilbly. Hy draai na Lena. Sy stem is baie ernstig toe hy praat.
“Madam, is your husband abusing you or not?”
Stilte. Lena byt haar onderlip en kyk na André. Hy dreig haar met sy oë.
“No Sir…” sê sy en probeer hard om die senuweeagtigheid in haar stem weg te steek.
“He is not and the next time you get such a phone call tell that person to mind their own business.” Lena vou haar arms.
Die skraal polisieman lyk nou baie onseker.
“Oh… I see. Well then we apologize for the misunderstanding. Please have a nice Saturday.” Hy kyk na sy kollega en beduie na die deur.
“Let’s go.”
André gee ‘n valse glimlag.
“No problem Sir. You know how these Roodepan people are, they just love news.”
Die twee polisiemanne is weg sonder ‘n woord verder.
André wag dat die polisiebakkie weg ry en maak die deur toe.
Hy draai om en kyk stip na Lena.
“Laat dit weer gebeur…” Hy gryp sy jacket wat oor die sofa hang. By die deur draai hy om.
“Jy beter domblins maak vanaand.” Die deur slaan hard agter hom toe.
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.



