Episode 1: Nosy Neighbours
Boeboe raak uit haar lekker diep slaap wakker en maak haar oë stadig oop. Sy strek haar hand uit en tel haar selfoon van die bedkassie op. Sy loer na die skerm wat ‘n skerp lig in haar oë skyn. Boeboe knip haar oë en sien dat dit sesuur in die oggend is.
Iets of iemand het haar wakker gemaak. Sy sit haar selfoon terug op die bedkassie en sit regop in haar bed. Boeboe strek haarself uit en gee ‘n lang gaap om die laaste bietjie moegheid uit haar liggaam te forseer. Sy sug en stoot die komberse van haar af weg en klim uit die dubbelbed. Haar slippers wag alreeds netjies langs die hangkas, net reg vir haar om aan te trek.
Daar is die geluid weer. Boeboe kry haar pienk gown wat oor die stoel hang en trek dit aan. Sy maak die kamerdeur oop en luister. Die huis is stil en haar ma slaap seker nog. Boeboe verlaat haar kamer en gaan kombuis toe. Haar ma is alreeds wakker en staan by die kombuisvenster. Sy is so gefokus op dit waarna sy kyk dat sy skaars agterkom dat Boeboe by die kombuis inkom.
Die kombuis ruik na lekker dun pap. Dis Boeboe se gunsteling en haar ma maak die lekkerste dun pap. Nie te dun nie en ook nie te dik nie, met net so ’n klein stukkie botter vir daai ekstra lekker smaak. Boeboe lek haar lippe af.
“Môre Ma,” groet sy ewe vrolik tog te bly dat sy nie hoef ontbyt te maak nie.
“Môre jong,” groet Mavis terug sonder om om te kyk. Sy staan by die kombuisvenster en maak haarself klein agter die gordyn.
Boeboe loop sleepvoet tot by die kombuistafel. Sloef, slaf, sloef, slaf. Die geraas wat van oorkant kom, is nou baie duidelik. Die bure stry alweer. ‘n Glas breek en ‘n vrouestem skreeu. Dis hoe Boeboe hulle ken en die man hou hom so watwonders, net die vroutjie groet nog, maar hou haar ook net so eenkant.
“Jinne. Jinne maar raak die mense nie moeg om so aan te gaan nie?”
“Haai. Shhhh. Ek luister hieso.”
Boeboe raak opgewonde en spring tot reg langs haar ma.
“Kom Ek sien tog ok.”
Mavis gryp die gordyn en druk dit vinnig toe. Sy draai om en waai met haar arms.
“Ja, ek het mos nou weer gesê kom vlek die gordyne oop. Hou op dinge laaik!”
Sy druk vir Boeboe weg van die venster af en loer weer.
Boeboe draai om en gaan na die yskas.
“Hoeee. My ma laaik net so dinge. Wat raas hulle nou weer so vroeg?”
Die gestry raak stil en Mavis maak kamstig asof sy nou net die gordyne kom oopmaak het. Die vroeë oggendlig stroom in by die kombuis.
“Hulle stry nou weer oor kos. Ek sal nog nooit laat ‘n man so op my kop sit nie.”
Mavis stryk die gordyne netjies en steek dit vas met pennetjies.
Boeboe haal haar selfoon uit haar gown se sak.
“Ek gaan nou die polisie bel, dit kan mos nie so aangaan nie.”
Mavis spring vinnig na waar Boeboe staan en gryp na haar selfoon.
“Hey, hou jou uit die mense se dinge uit.”
Boeboe lig vinnig haar selfoon in die lug op sodat haar ma dit nie kan kry nie. Gelukkig is sy langer as haar ma wat nou soos ‘n kind spring om die selfoon by Boeboe te probeer afvat.
“Boeboe!” roep Mavis waarskuwend.
“Nee Ma. Iemand moet iets doen, want soos dit vir my lyk, word die arme vrou getimmer ook nog.”
Mavis is uitasem gespring en besluit om op te gee. Sy draai van Boeboe af weg en gryp sommer die besem.
“Is want sy laat dit toe. Sy laat daai man haar ‘n slaansak maak,” sê Mavis en gaan uit om die stoep te vee.
Boeboe druk die polisie se noodnommer en gaan sit by die kombuistafel. Die foon lui en na ‘n rukkie antwoord iemand aan die ander kant. Die vrouestem praat Engels. Boeboe maak haar keel skoon. Van wanneer af praat Roodepan se polisie nou weer Engels?
“Helo, is this the Roodepan polisiestasie?”
WORD VERVOLG.
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.




