Gewapende verdagtes maande na roof steeds soek

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Die polisie in Kimberley is opsoek na twee gewapende mans wat na bewering ’n snoepwinkel in De Beers beroof het.

Lt.-kol. Dimakatso Mooi, woordvoerder van die polisie in Kimberley, sê die twee verdagtes het die winkel op 17 Mei om ongeveer 19:00 besoek. Hulle het die slagoffer met ’n vuurwapen gedreig en het op die kontant in die kasregister aangedring.

Hulle het die slagoffer met die wapen agter die kop geslaan. Die verdagtes het met ’n onbekende som geld en twee selfone van die toneel gevlug. 

Lt.-kol. Mooi sê albei verdagtes is glo in hulle dertigs. Die een man is lig van gelaatskleur en is medium gebou. Die ander is skraal gebou en is donker van gelaatskleur.

Lt.-kol. Mooi doen ‘n beroep op die gemeenskap vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die skuldiges. Konst. Rachel Moholwane kan by 071 686 0983 of 053 836 2600 geskakel word.