FiND iT paartjie van die week – Johnny en Jolandy Dimond

Deel hierdie storie / Share this story

Johnny (37) en Jolandy Dimond (42) is een van Kimberley se gunstelingpaartjies. Jolandy werk by Sanlam en Johnny werk by Kimberley City Portal. Die paartjie is al sewe jaar saam en drie jaar getroud. Hulle vertel hul liefdesstorie aan FiND iT.

Hoe het julle ontmoet?

“Ons het mekaar na jare weer raakgeloop op Facebook en begin gesels. Toe ek weer kyk, besef ek dat ek baie lief is vir Johnny. Dit het vanself gekom en ek kon nie glo hoe liefde net so inloop in my lewe nie,” vertel Jolandy.

Wie maak die meeste kos in julle huis?

Jolandy sê: “Ek maak meeste van die tyd. Johnny sê hy kan lekker braai en 2 min noodles maak.”

Hoe het julle verloof geraak?

“Nee, daai is ‘n wilde een. Ek het hom gevra om te trou! Dit is nogal baie ongewoon dat die vrou die man vra om verloof te raak en ek is soms baie voor op die wa. Ons het begin deur ons een vriend ‘n stukkie te laat lees van hoe ek voel oor hom en vriende van ons het ‘n plakkaat gemaak waarop staan: “Johnny will you marry me?” Ons was vyf wat die plakkate vasgehou het. Ek het die me gehad. Toe hy besef wat ons doen, was die verbasing baie groot op sy gesig en hy het ja gese. OFM se gelukbringerhondjie Lucy, het sy ring gebring. Dit was by ‘n Kimberley Saamstaan-byeenkoms,” sê Jolandy.

Hoe het jy geweet hy is die een?

Jolandy vertel: “Ons het begin as vriende en gekuier en dinge saam gedoen. Toe gaan Johnny-hulle met vakansie en ek besef toe maar op dié man het ek beslis verlief geraak. Dit het so natuurlik ingesluip sonder dat ek dit besef het.”

Wat maak julle huwelik sterk?

Jolandy: “Kommunikasie, vertroue teenoor mekaar, opregte liefde.”

Johnny: “Respek teenoor mekaar, kommunikasie en lojaliteit.”

Boodskap aan ander paartjies?

Jolandy: Hoe ons dit regkry, is met mekaar praat. As julle sien iets is nie lekker nie, praat dit uit. Moenie baklei daaroor nie. Sê vir jou ander helfte dit is wat my ongelukkig maak en kom tot ‘n vergelyking. Moenie jou ander helfte blameer vir goed nie. VERTROU mekaar. In ‘n verhouding is alles 50/50. Julle moet saamwerk en dinge saam doen. Leer mekaar se foute ken en werk deur die foute (nie deur mekaar af te breek nie, maar deur liefde en geduld). Ons sê elke dag vir mekaar ons het mekaar lief, want niemand weet wat more gaan gebeur nie – dalk is dit dan te laat.”

Johnny: “Ons het geleer om elke dag te vat soos dit kom. Geniet die tyd wat jy saam met jou liefde deurbring en moenie dat kleinighede jou verhouding opbreek of beïnvloed nie. Daar is nie ‘n dag wat verbygaan dat ons nie lag of glimlag nie, dat ons mekaar terg ens. nie. Die belangrikste is: wees lief vir mekaar en staan altyd by mekaar. Live life to the fullest, enjoying every moment.