KIMBERLEY – Die 106-verslag, wat handel oor onreëlmatighede by die Sol Plaatje-munisipaliteit en wat sedert verlede jaar tersyde gestel was, is uiteindelik teen laatmiddag by ’n munisipale raadsvergadering ter tafel gelê.
Die raadsvergadering het chaoties begin nadat verskeie raadslede daarop aangedring het dat Nomonde Tyabashe-Kesiamang, die nuwe waarnemende munisipale bestuurder, die raadsaal verlaat.
Christopher Phiri, DA-hoofsweep in die Noord-Kaap, het tydens die raadsvergadering die aanstelling van Tyabashe-Kesiamang bevraagteken en het gesê die DA gaan hulle beswaar teen die aanstelling tot ’n nasionale vlak verwys.
Phiri het aangedui dat daar twee teenstrydige notules vir die raadsvergadering, wat op 25 Julie gehou was, waartydens Tyabashe-Kesiamang verkies en ingesweer is, aangeteken. Hy sê dit is belangrik om duidelikheid te kry. Indien Tyabashe-Kesiamang se aanstelling later onwettig verklaar word, kan dit al die raadsvergaderings waar sy as die waarnemende munisipale bestuurder gesit het, beïnvloed.
Shelley Thomas, voorsitter van die ouditkomitee by die munisipaliteit, het ’n ouditverslag aan die raad voorgelê en gesê een van die probleme met aanstellings van waarnemende poste is die feit dat daar nie evaluasies gedoen word na drie maande wanneer die aanstelling verstryk het nie.
Besluitloosheid van personeel in waarnemende posisies en geen behoorlike oorhandiging van poste skep ook probleme. Elke nuwe aanstelling is ’n leerkurwe en die persoon moet eers leer waaroor die posisie gaan, het Thomas gesê.
Oor die kwessie van die 106-verslag het Thomas gesê die komitee het nog nie die verslag gesien nie, maar sal teen Januarie 2020 aanbevelings daaroor maak.
Patrick Mabilo, die uitvoerende burgemeester, het tydens sy aankondigings gesê daar word 6000 songeisers aan behoeftiges in die Noord-Kaap beskikbaar gestel.
* Die verslag bevraagteken onder andere Ruth Sebolecwe, ’n vorige waarnemende munisipale bestuurder, se rol in die onregmatige toegang tot die munisipale rekenaarstelsel wat aan die opgeskorte munisipale bestuurder, Goolam Akharwaray en die opgeskorte hoof finansiële bestuurder, Lydia Maholko, verleen was. Die verslag verwys ook na die Hawks se ondersoek na die onregmatige aanstellings van vriende en familie onder haar bestuur, en haar onvermoë om rekening te hou van al die EPWP-werkers op die munisipale sisteem.



