KIMBERLEY. – Die Sol Plaatje-munisipaliteit ontvang daagliks tussen 30 en 50 oproepe om lekkasies of gebarste pype te rapporteer en sê hulle word gedreig deur inwoners wat na die media wil gaan met hulle klagtes.
Sello Matsie, woordvoerder van die munisipaliteit, sê daar word daagliks oproepe ontvang, maar hulle kan nie altyd by alle lekkasies of gebarste pype uitkom nie. “Ongelukkig moet die lekkasies en gebarste pype volgens dringendheid sorteer word. ’n Meter wat lek, gaan byvoorbeeld nie eerste prioriteit wees as daar in ’n ander area duisende liters water by ’n gebarste pyp uitvloei nie.”
Hy sê ook in hierdie stadium probeer hulle nog die Newton-reservoirvlakke tot normaal laat terugkeer voor hulle die inwoners in sekere areas weer ontwrig deur die water af te sit om herstelwerk aan die lekkende pype te doen.
“Ons probeer altyd die lekkasies so gou moontlik herstel en word dikwels gedreig dat die inwoners na die media sal gaan met hulle klagtes, maar ongelukkig moet ons die lekkasies en gebarste pype prioritiseer en dié doen wat in daardie stadium die belangrikste is. Partykeer is al die werkers besig by die Riverton-watersuiweringsaanleg en kan hulle nie dadelik aandag aan al die klagtes gee nie. Die betrokke afdeling sal dus so gou moontlik aandag gee aan alle klagtes wat rapporteer word.”
Matsie sê hulle gaan ook binnekort die pad na Yonder begin herstel, maar wag nog vir antwoorde oot wanneer die herstelwerk sal begin.



