KIMBERLEY. – Wat eens die geliefde Oppenheimer-tuin was waar die Gariepfees jaarliks plaasgevind het, het nou ’n seer oog vir inwoners geraak weens al die rommel wat weekliks daar gestrooi word.
Sello Matsie, woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê dié tuin word weekliks deur vyf tot tien werkers skoongemaak. “Dit is die munisipaliteit se verantwoordelikheid om die stad skoon te hou, maar so ook is dit die inwoners van Kimberley se verantwoordelikheid om te probeer om die stad skoon te hou. Dit is menslike aksies wat dit veroorsaak.”
Hy sê hulle ry weekliks een of twee bakkievragte vol rommel en drankbottels weg.
Die Oppenheimer-tuin, wat geleë is oorkant die hooggeregshof en die William Humphreys-kunsgalery, het ook met die jare gevaarliker geraak.
“Daar word ekstra pogings aangewend om te probeer om hierdie tuin skoon te hou,” sê Matsie.
Hy sê ook die verkeersdepartement, wat voorheen saans rondom die tuin ontplooi was, was ’n poging om die hoeveelheid dronkbestuurders wat vanaf dié tuin kom, te verminder. “Die inwoners gaan gereeld soontoe om alkohol te drink en moet van daar huis toe gaan, maar dit is baie gevaarlik. Volgens wet mag mense nie in openbare areas alkohol gebruik nie.”






