KIMBERLEY – Die DA in die Noord-Kaap het gesê hulle staan op teen die groeiende kultuur van ‘n elitistiese Sol Plaatje-munisipaliteit waar amptenare en raadslede hulleself bevoordeel ten koste van dienslewering aan die inwoners van Kimberley en sy omgewing.
Andrew Louw, provinsiale leier van die DA, het tydens ’n toespraak voor die munisipaliteit gesê genoeg is genoeg.
Hy het gesê Kimberley wen nie net loshande ’n toekenning vir die “vuilste stad” nie. Motoriste voel ook die pyn van die swak toestand waarin ons paaie is. Die stank van ’n verbrokkelde rioolinfrastruktuur hang in die lug van die stad. Louw het gesê weens die gebrek aan gekoördineerde instandhouding en opgradering van die waterinfrastruktuur word die water gereeld gesny.
Louw het die kommunikasie van die munisipaliteit oor die watersituasie van die naweek gekritiseer. Hy het gesê inwoners is hoog en droog gelaat om te wonder wat aangaan en wanneer hulle water in hulle krane kan verwag.
“Ons wil vir Sello Matsie, die spin-doctor van die munisipaliteit, sê ons kom vir jou. Elke slag wat ons mense verantwoordelik wil hou, het jy ’n mooi storie om te vertel,” het Louw gesê.
Hy het gesê die ware verhaal sal vertel word. Dit kan nie toegelaat word dat sommiges lag wanneer inwoners se elektrisiteit afgeskakel word omdat hulle weet hulle is polities verbind om met agterstallige skuld weg te kom nie.
Sol Plaatje-personeellede sowel as raadslede skuld die munisipaliteit meer as R7 miljoen in agterstallige skuld. Dit sluit Patrick Mabilo, uitvoerende burgemeester, in. Mabilo se skuld aan die munisipaliteit beloop ’n som van meer as R200 000, maar hy en talle werkenemers hier ontvang nog steeds munisipale dienste, het Louw gesê.
In vergelyking het hy gesê, word bejaardes en hulpbehoewendes wat agterstallig is se koopkragmeters op die koudste aande van die jaar geblokkeer.
“Hoe is dit regverdig? Waar is die sorgsame regering daarin?” het Louw gevra.
Die aanstelling van waarnemende personeel is deur Louw gekritiseer. Hy het gesê die DA twyfel nie dat die Sol Plaatje-munisipaliteit deur ’n “mafia” van kaders oorgeneem is nie. Dit is geen geheim dat die munisipaliteit die stortingsterrein geword het vir politiek-verbonde kaders wat na werk op soek is nie, het Louw gesê.
Hierdie het so ‘n groot probleem geword, het hy gesê, dat die nasionale tesourie die munisipaliteit waarsku. Benewens die uitstaande skuld en vertragings in die uitvoering van projekte, het die toenemende salarisbegrotings die munisipaliteit se finansies onder druk geplaas en die volhoubaarheid daarvan negatief beïnvloed.



