KIMBERLEY. – Talle mense het vandag voor die departement van maatskaplike ontwikkeling bymekaargekom om ’n memorandum, wat binne sewe dae beantwoord moet word, te oorhandig.
Dié mans en vroue wat van regoor die Noord-Kaap kom, was meestal geklee in wit en rooi.
Clive Tswaile (45), die voorsitter van die progressiewe beweging in die Noord-Kaap, sê daar is ’n paar kwessies waaroor hulle nie tevrede is nie.
“Die betaling wat ons ontvang van die departement beloop sowat R15 per kind per dag, maar dan moet dit deur 50% gedeel word, dan deur 30% vir die toelae en dan weer deur 20% vir die lopende kostes.”
Hy sê wanneer hulle aansoek doen om befondsing van sowat R150 000, word hulle net oor die R12 000 betaal. “Ons wil weet waarheen gaan die res van die fondse. Ons wil ook raakgesien word as opvoeders.”
Mokhele Mokhudu sê elke distrik word ook anders behandel. “Ons wil almal dieselfde behandel word.”
“Daar word altyd beloftes gemaak, maar dit word nooit nagekom nie, daarom het ons die memorandum vandag ingedien,” sê Tswaile. “Ons moet ook nou nuwe sertifikate kry, maar ons word nie goedgekeur om die sertifikate te ontvang nie, so dit voel die departement blokkeer ons.”
Die departement van maatskaplike ontwikkeling is gekontak, maar geen kommentaar is teen publikasie ontvang nie.





