Springbok-koek veroorsaak herrie by Checkers

Deel hierdie storie / Share this story

’n Bakker by ’n Checkers-supermark in Kaapstad het in warm water beland nadat hy ’n koek met die slagspreuk “Quota Squad” versier het.

Die slagspreuk wat mik op die rasgebaseerde kwotastelsel waarvolgens die Springbokspan saamgestel word, het mense op sosiale media ontstoke gehad.

Nathan Kolbe, ’n klant van die supermark, het ’n foto van die koek op Facebook gelaai nadat hy dit in die winkel gesien het. 

Kolbe het die ikoniese Springbok-embleem as ’n mening op die plasing bygevoeg en gesê: “Hier is die embleem van die Suid-Afrikaanse-rugbyspan vir dié wat nie geweet het nie.”

Norman Leslie het op die plasing gesê: “Ek sou die goed op die tafel omgekeer het en ’n groot scene gemaak het as hulle my sou aanspreek.”

Ron Morkel Da Costa Silva het gesê: “Dit is onaanvaarbaar. Die winkel moet geboikot word.”

Mary Brander het gesê sy kan nie glo dit het gebeur nie.

Mark Sproston het gesê: “Elke speler in die Springbok-span verdien om daar te wees. Checkers moet die moeite doen om toesig te hou oor hulle werkers. Die land het nodig om saam te staan.”

Francois van der Merwe het gesê hy kan nie sien hoekom die rassekaart gespeel word nie.

Die supermark het hulleself van die voorval gedistansieer en gesê dit is nie die opinie van die winkel nie. 

Die bestuur van die tak het die bakker onmiddellik aangespreek en die koek laat verwyder toe hulle daarvan in kennis gestel was. Checkers sê dit was ’n swak besluit van ’n werknemer en dit is nie die opinie van die supermark nie.