Bykans vier dekades by GWK

Deel hierdie storie / Share this story

Elsie Bekker (56) werk al sedert sy haar matriekjaar in 1981 voltooi het by die GWK-koöperasie. Dit is bykans vier dekades.

“Ek werk al sedert Desember 1981 by die koöperasie op Christiana. Ek het daar grootgeword en matrikuleer, maar het in Mei 1985 gevra vir ’n oorplasing na Kimberley.”

Sy sê Christiana is baie klein en ’n tipiese plaasdorpie. “Ek was baie betrokke by pluimbal en speel sedert 1981 SA’s vir die senior span. Al die byeenkomste het in Kimberley plaasgevind, so ek moes heeltyd deurkom om deel te neem. Ongelukkig moes ek omtrent drie jaar gelede ophou pluimbal speel, ná ek ’n rugoperasie gehad het.

“Ek was al in verskeie poste by die koöperasie werksaam, maar het vir 28 jaar in die dieregesondheid-afdeling gewerk. Ek was mal daaroor. Dit is my passie om met diere te werk. Ek het altyd gedink ek is ’n introvert, totdat ek in daardie afdeling begin werk het. Ek is mal daaroor om met mense te werk, elkeen te leer ken en hulle te help met dieregesondheid.

“Ek is tans die senior koördineerder by die koöperasie. My ma en pa het vir my en my suster geleer dat ons nooit moet rondval in jou werk nie. Jy moet hard werk, jouself opwerk en ’n sukses daarvan maak. Ek geniet elke jaar wat ek al vir GWK werk. ”