Boeta probeer vinnig aan iets dink.
“Ek bedoel soos Errr… Daai wat hulle ‘n mens vooruit betaal…”
“Vooruit betaal??” Titus trek haar gesig en frons.
“…soos ‘n advance payment.” antwoord Boeta en haal vinnig van die geld uit sy sak. Hy tel twee duisend rand af.
Sy ma lyk heeltemal verlore.
Boeta besluit om nog ‘n duisend af te tel.
“Die manager het vir my gevra of ek transport het toe sê ek nee. Toe offer hy om my solank vooruit te betaal. ‘n advance payment.” sê Boeta baie seker van sy verduideliking.
Titus krap haar kop maar dit lyk asof sy verstaan.
“Hieso, die is vir ma.” sê Boeta sodat Sy ma nie verder dink kans kry nie en hou die drie duisend rand uit.
“So baie geld??”
“Ja Ek sal moet weekends ook werk… en holidays.” voeg Boeta vinnig by.
Titus se oë blink. Sy vat die geld en tel dit af.
“Soe! My kind… Die Here is goed man. Kyk watse goeie werk het jy gekry…”
Moet tog nie verder uitvra nie… bid Boeta in sy hart.
“Ons moet vir die Here dankie sê. Ek gaan kry gou die bybel.” Sy spring weg en drafstap opgewonde na haar kamer toe.
Boeta voel met eens baie skuldig. Wat as die Here hom straf… Hy probeer die dik knop in sy keel wegsluk.
“BRENDEN…” Titus staan by hulle se kamer deur.
“Shame hy slaap vas, ons los hom maar.” sê sy en kom bybel in die hand terug.
In die sitkamer gee sy dit vir Boeta.
“My kind lees vir ons psalm 30 vers 12 tot 13.”
Boeta is huiwerig. Hy vat die groot boek en blaai dit oop. Hy het so lanklaas ‘n bybel oopgemaak hy weet skaars waar is die boek van Psalm. Is dit na of voor Genesis… Nee Genesis is laaste. Dit weet hy darem.
Boeta maak sy keel ongemaklik skoon.
“Psalm is agter Job my kind.”
Boeta se oë ontmoet vinnig met sy ma sin wat hom die hele tyd staan en dop hou.
‘Oh ja Job, daai man wat so geduldig was’
Boeta blaai verby ‘n klomp boeke. Konings, Esra, Nehemia, Job en toe Psalm. Hy kry die regte vers. Hy maak weer sy keel skoon en begin lees.
“Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek. ..”
“Ja, lees verder.” sê sy ma. Boeta maak weer sy keel skoon. Dus asof iets in sy keel vassit.
“Daarom sal ek sing tot u eer; ek sal nie stilbly nie. Here my God, vir altyd sal ek U loof. ”
Skielik gee sy ma vir hom ‘n stywe drukkie. Dus onverwags.
“Dankie my kind. Dankie dat jy nie soos die ander good for nothing hoek-sitters is nie. Die Here seën die wat opreg is.”
Later lê en rol Boeta rond in sy bed. Hy kan nie ophou dink aan aunt Patricia en Cindy nie. Die tsotsis wat hulle wou roof. Sy ma se gebed.
Môre gaan hy vir Leeroy hulle sê hy is uit. Hy gaan terug na Mr. Nel toe gaan en as Leticia nie impress is met sy werk as ‘n pakker nie dan moet sy maar ‘n cheeseboy gaan kry want hy is nie een nie… Boeta maak sy oë toe.
“BOETA. BOETA staan op jong jy raak laat.”
Boeta maak stadig sy oë oop. Sy ma staan by sy bed. Hy knip sy oë vir die skielike skerp lig.
“Laat vir wat?” vra hy nog deur die slaap.
Sy ma frons.
“Laat vir werk! Toe staan op.”
‘Oh hel’ dink Boeta en sit vinnig regop.
Nou sal hy elke oggend vroeg moet opstaan en maak asof hy werk toe gaan.
Sy ma draai om en stap uit die kamer.
Brenden verskyn half aangetrek met een kous aan.
“Mammie sê jy werk nou.”
Boeta gee ‘n flou glimlag vir sy broer en vee die slaap uit sy oë. Hy gee ‘n lang gaap en rek homself uit.
“By ‘n computer plek…” gesels Brenden verder.
“Hoe laat is dit?”
Brenden buk alweer opsoek na ‘n verlore skoen.
“Is ses uur.”
“BOETA.”
Daar is ‘n lawaai in die kombuis.
Boeta staan op en besluit om homself reg te maak vir die dag.
Nadat hy gewas het en sy tande geborsel het gaan sit hy by die kombuis tafel. Sy ma is besig om Brenden se kosblik in te pak. Boeta se oë raak groot. Daar is corn flakes, toast en eiers en selfs bacon. Wanneer laas het hulle bacon gehad.
“Joh, is dit alles vir my?” sê hy en glimlag breed. Boeta is nie seker waar om te begin nie.Sy mond water. Alles lyk lekker. Hy besluit om die cornflakes te los en smeer twee snye toast met botter en sit dit netjies in sy bord met die eiers en bacon. Boeta smeer nog ‘n sny en neem ‘n groot hap.
Titus kyk op en sy glinster heel in haar skik.
“My kind werk nou so jy deserve om lekker te eet. Ek gooi gou vir jou koffie.” sê sy en draai ‘n die ketel. Ewe skielik smaak die toast en eiers nie meer so lekker nie. Dus asof iets in sy keel vassit. Hy sukkel om te sluk en die kos gaan met moeite af.
“Wil jy vars melk hê?”
Boeta knik. Brenden verskyn, aangetrek.
“Kom Brenden jy raak laat.” sê Titus en loer na haar watch. Sy skielik haastig en tel Brenden se skool sak op.
“Boeta jy moet ‘n lekker daggie het, Ek gaan vemiddag oom stoffel die rent se geld gee. Brenden groet jou broer…”
Gou genoeg is Titus en Brenden uit by die deur. Boeta sit alleen by die kombuis tafel in die stil huis. Buite hoor hy voëls wat opgewonde sing oor die nuwe dag.
Boeta probeer die kos met sy koffie af sluk maar selfs dit is smaakloos. Sy ma is so opgewonde oor sy nuwe so called werk. As sy net weet. Boeta staan op en maak sy bord kos toe en sit dit in die yskas.
Sy selfoon lui.
Dis Wilson wat bel.
“Aweh…”
“Heh pa. Leeroy wil meet.”
“Wanneer?”
“Nou.”
Boeta huiwer.
“Heh AB hoor jy my?”
“Errr ja. Awe is nxa ek is nou daa.”
Boeta lei af.
Hy gaan vir Leeroy hulle vertel van sy besluit.
Word Vervolg.
Boeta het vir sy ma gelieg en daarmee weggekom maar nou gaan hy onttrek by Leeroy hulle of sal hy?
Word vervolg.
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.



