‘n Stem van ‘n vroumens praat iewers in die donker kamer en toe… ‘n vlam van ‘n vuurhoutjie. Die kers begin brand en skyn ‘n helder lig wat die kombuis met skaduwees teken.
‘n Jong mannetjie, omtrent agt jaar, sit en verkyk homself aan die kerslig. Sy skaduwee dans teen muur agter hom.
“Hou op so ini kers in kyk Brendon jy sal ini kooi pie vanaand,” die vrou se stem is kwaai.
“Ek sali,” sê Brendon en gee ‘n verspotte laggie en klim van die stoel af.
“Gaan was jou hande,” beveel Titus Abrahams en dreig vir Brendon met die vadoek. Sy lyk moeg en haar hande dra die merke van jare se harde werk.
Sy het haar blou voorskot aan en haar pienk slippers.
“Ek is nou al so op vir die loadshedding wat nou glad elke week is.”
Titus draai om na die gasstoof toe en draai dit af.
“Ten minste eet ons by candlelight.” Boeta stap die kombuis binne en gaan sit by die kombuis tafel.
“Het jy jou hande gewas?”
Titus kom met die pot na die tafel toe.
“Hulle is skoon,” sê Boeta en wys sy hande.
“Nou sit solank die borde reg.”
Boeta staan op met ‘n sug en kry die borde uit die kombuiskas.
Brendon verskyn en vee sy nat hande aan sy t-shirt af.
“Gaan mammie vir my twee stukke vleis skep?”
Titus kry die skeplepel by die sink en gee vir Brendon ‘n kyk.
“Hoor die kind,” sê sy vir haarself.
Boeta sit die borde reg en haal die brood uit die broodblik. Hy sit dit op die tafel neer en gaan kry die margarine uit die yskas. Dis ‘n ou stuk yskas wat Boeta se ma by haar ma ge erf het. Boeta hou niks van die aaklige stuk yskas nie want soms besluit dit sommer om te dood en dan moet jy dit ‘n harde skop gee voordat dit weer lewe kry. Hy kyk na die duike wat al diep lê teen die sykant en frons.
Titus maak die pot oop en Brendan loer binne in. Hy trek sy gesig.
“Mammie ek soekie lewertjies nie…”
“Nou dan moet jy maar brood en koffie eet,” sê Titus terwyl sy begin opskep.
Boeta trek ook sy gesig en Titus sien dit. Sy hou op skep.
“Kyk hier. As julle vol fiemies is vanaand dan moet julle honger gaan slaap.” Sy stamp die skeplepel teen die rand van die groot pot om van die sous af te kry.
“Nee ma… Ek het nooit gekla nie,” sê Boeta vinnig en sit die margarine op die tafel neer. Hy soek kamma die bottermes in die kombuis kas se laai. Titus wag tot hy dit gekry het en weer by die tafel gaan sit.
“Kom laat ons bid…” sê Titus en maak haar oë toe.
Nadat Boeta klaar die skottelgoed gewas het gaan staan hy by sy ma se kamer deur. “Ma ek gaan gou tot daa by Willa.”
“Wie?”
“By Willson.”
‘n Kort stilte.
“Jy kom nettie wee oggend ure hier aan nie.”
“Ja ma,” antwoord Boeta en draai haastig om. Dit is al oor agtuur en die ouens wag al lankal vir hom.
“Kan ek saam gaan?”
Brendan staan in die gang asof hy die hele tyd vir Boeta daar gewag het.
“Nee,” sê Boeta kortaf en maak die deur agter hom toe.
Dit is ‘n Saterdagaand en die geraas van musiek en opgewonde stemme vul die lug. Die maan skyn so dat dit amper nie eens nodig is vir die straatligte nie. Die reuk van rook vul sy neusgate. Iemand maak weer iewers ‘n tyre vuur.
Boeta draf uit by die voorhek en in die straat af.
Wilson wag op die hoek onder die straatlig. ‘n Rookwolkie trek by sy mond uit.
“Awe Boeta Abrahams…”
Wilson nip die sigaret teen sy skoen se hak.
“Awe Willa,” groet Boeta tergend terug.
“Waar’s jy die hele aand jong, man wag al lank hierso.”
“Die tannie het laat by die huis gekom man.”
Die twee begin aan stap. Wilson se smile verdwyn en hy is skielik stil.
“Nou as jy nou so af lyk?” vra Boeta
“…Het jy en die toppie wee gestry?”
Boeta kyk na sy vriend en soek vir die blou oog. Wilson se Pa is ‘n streng man maar ook ‘n boelie.
“Neh.” Sê Wilson kort af.
“Is die meddie se mense. Hulle wili hê ek moet my laaitie sien nie kaow just because ek nie geld hetie…”
Wilson kyk na Boeta en die pyn in sy oë is duidelik.
Boeta dink aan iets om te sê. Iets wat sy vriend van laerskool dae af sal kan troos.
“Daai mense is vals man. Jy was goed toe jy gespan het maa nou is jy soos niks.”
Wilson spoeg op die grond. Nie vir dit wat Boeta sê nie maar omdat hy altyd so spoeg. Boeta hou niks daarvan nie maar hy besluit om stil te bly.
Wilson lek sy lippe.
“Die wat ‘n man nie matriek hetie is tough bra. ‘n Man sukkel om regte span te kry.”
Boeta dink aan nog iets om te sê.
“Die lewe kom nie met ‘n guidebook nie my vriend. ‘n Man moet maar sy eie pad uit trap…”
Maak dit nou sin… Dink Boeta by homself.
“Ja is waar kaow.” sê Wilson.
‘n Groepie mense kom in hulle rigting laggend aangestap. Vier meisies en drie seuns. Die twee meisies is diep in geselskap en lag uitspattig. Boeta ken hulle. Die leier is Jason.
“Awe,” groet Boeta soos wat die groepie aankom.
Jason wou eers maak of hy nie vir Boeta sien nie maar sy oë ontmoet tog met Boeta sin. Sy vriende loop verder aan.
“Aweh Dog,” groet hy terug met ‘n groot smile wat sy goue tand wys.
“Ek isi jou dog nie… Wanneer gee jy my geld.”
“Sorry bra…” Jason se smile verdwyn.
“Ek gaan jou betaal bra,” sê hy.
“Hey vetsek. Jy vat my bra vir ‘n pop jy ne.” Wilson mik vir Jason met sy oop hand. Hy koes.
“Ek sal mos die man betaal bra, hoes jou hart…”
“Jy beter. Tsek!” Wilson gee vir Jason ‘n harde skop.
Jason is ‘n soort van ‘n cheese boy en Wilson hou niks van hom. Sy pa is ‘n dik ding in die government.
Jason kyk om en staan vir ‘n oomblik.
“Tsek!” sê Wilson weer asof hy ‘n hond weg jaag.
“Is nxa bra. Is nxa,” Jason draai om en join sy vriende wat ‘n entjie weg staan en wag.
Wilson is opgewerk. Hy haal sy stompie uit en sit dit in sy mond.
“Jy’t te veel patience met daai laaitie,” sê hy en soek in sy sak vir vuurhoutjies.
Boeta bly stil want hy weet Wilson kan die hele nag praat van Jason en sy familie wat hulle beter hou.
“Kom ons loop bra, laat ons hoor wat soek Leeroy.”
Die twee loop verder in die straat af en begin gesels oor hoe elkeen se dag af geloop het. By die hoek sien Boeta Leeroy en Angelo staan en wag alreeds vir hulle.
“Awe, awe, awe die ouens,” groet Leeroy al van ver af. Angelo staan en suig aan ‘n sigaret. Elke nou en dan blaas hy rookwolkies.
“Kom laat ons vinniger loop voor daai vullis die gwaai kla rook,” sê Wilson.
“Awe Hoezit…” groet hulle mekaar.
“Nxa en jy bra…”
Wilson is meer bekommerd oor Angelo wat eers nog ‘n skyf wil trek.
“Nou wat is so dringend wat jy nie op die group kon gesê het nie…” vra Boeta sommer reguit.
“Hê wag eers. Moenie so hard praat nie.”
Wilson het die sigaret gekry.
“Vir watie… Jy’t altyd planne jy,” sê hy.
Leeroy kyk eers rond om seker te maak dis net hulle op die hoek. Twee anties staan en gesels oorkant die pad maar hulle is ver buite hoor afstand.
Leeroy kyk eers vir Angelo en knipoog. Angelo trek sy cap skeef en smile. Hy wys sy geel tande.
“Check hie…”
Leeroy steek sy hand agter sy rug en haal ‘n pistool uit.
Boeta se oë rek. Hy kyk na Wilson en sien die se oë is net so groot.
WORD VERVOLG.
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.