Staats-leerder blink uit

Deel hierdie storie / Share this story

Danika Meyer (Didi), ’n gr. 6-leerder van Laerskool Staats, presteer in akademie, sport en kuns sedert sy erekleure vir skaak in haar eerste jaar by die skool verower het.

Sy het vanaf gr. 1 vir drie jaar op nasionale vlak skaak gespeel. Vir die selfde aantal jare het sy by die Wow-spelfees tot by die provinsiale ronde deurgedring. Didi het ook elke jaar aan die ATKV-redenaars deelgeneem en aan die provinsiale rondes deelgeneem.

Sy het die afgelope vyf jaar aan die Radikale-redenaarskompetisie deelgeneem en vier keer in die landsfinaal-ronde geëindig.

Didi het in hierdie jaar haar noodhulpopleiding Vlak 1 suksesvol voltooi. Verlede jaar het sy die Nellie Swart akademiese beurs, vir die toppresterende dogter in haar graad, verower.

Didi sing koor, speel eerste span netbal en hokkie. Sy neem ook deel aan atletiek, drama en kuns. Akademies is sy tweede in haar graad en sy het erekleure vir akademie, WOW-spelfees, skaak, ATKV-, Artisticulta- en Radikale-redenaars verwerf.

Aan die einde van die jaar wil Didi graag erekleure vir koor ontvang.

Staats het hierdie jaar vir die eerste keer aan Artisticulta-redenaars deelgeneem en het ’n vierde plek in die land vir groepredenaars behaal.