Die Automobiel-Assosiasie (AA) se reisafdeling, AA Travel, waarsku vakansiegangers om nou reeds vroegtydig vir die vakansietydperk aan die einde van die jaar te begin beplan.
AA Travel sê ses maande mag dalk nog ver voel, maar teen Oktober kan dit te laat wees om alternatiewe planne te maak. Dit is daarom noodsaaklik om so vroeg as moontlik te begin om vooruit te beplan of jy plaaslik of buite die land se grense gaan vakansie hou.
Maak seker jou motor is in ‘n goeie toestand
Is jou voertuig in ’n goeie toestand sodat jy tot by jou bestemming en terug kan ry? Laat diens jou voertuig vroegtydig. Moet dit nie vir die laaste nippertjie los nie. Motorwerkswinkels raak besig voor die vakansie. Indien ’n spesiale onderdeel vir jou motor bestel moet word, kan dit ook tyd neem.
Die AA beveel die volgende wenke aan:
- Diens jou voertuig vroegtydig en inspekteer die bande.
- Maak seker jy het die nodige noodtoerusting soos ’n brandblusser, fietspomp, flits en weerkaatsbaadjie in jou voertuig.
- Maak seker indien jy chroniese medikasie gebruik, om dit in te pak en dat dit nog nie verval het nie.
- Bevestig verblyf vooraf.
- Beplan vooruit.
- Kyk vooraf in plaaslike reisgidse vir aktiwiteite en byeenkomste waaraan jy by jou bestemming kan deelneem.



