Surita de Wet van Kimberley en Jolize Wiid (44) van Jacobsdal is tweelingsussies wat alles deel. Hulle gesels met FiND iT oor die onbreekbare band tussen hulle en “die seun wat hulle deel.”
Surita werk as ‘n voedseldiensbestuurder en doen ook skoonheid ná ure. Jolize is ‘n huisvrou en hou haarself besig deur te skilder en mode-ontwerp te doen.
Surita is eerste gebore, in Bloemfontein, tydens ‘n normale geboorte, maar Jolize is eers 45 minute later met ‘n keisersnee gebore. Jolize sal altyd vir Surita spot en sê sy gaan 45 minute voor haar plooie kry.
‘n Band soos geen ander
Hulle sal soms dieselfde aantrek, sonder om dit vooraf te beplan. Hulle weet ook wanneer die ander een sleg voel of siek is. “Daardie band tussen ons is definitief daar,” sê Jolize. “Ons doen alles saam en sien mekaar gereeld.”
Hoe voel dit om deel van ‘n tweeling te wees?
“Dit is baie lekker, maar mense is geneig om mens met mekaar te vergelyk. Dit forseer jou om jou eie identiteit te soek. Ons is dalk dieselfde, maar ons is twee verskillende mense,” sê Surita.
Beste herinneringe as kinders
“Ons het meer seuntjie-goed gedoen toe ons klein was. Die beste herinneringe was toe ons saam met ons pa gaan skiet, jag en stap het,” sê Jolize.
Hulle albei se gunstelingkleur is rooi en albei eet enigiets.
Hulle het vreeslik baklei tot in matriek, toe raak dit beter. Hulle het mekaar se klere gevat en op skool dieselfde foute in toetse gemaak.
Beste deel van ‘n tweeling wees
“Jy is nooit aleen nie. Daar is altyd iemand om mee te praat en wat verstaan,” sê Surita.




