André (36) en Reshelle Smith (26) is al vier jaar getroud en pak alles in die lewe saam aan. Hulle gesels met FiND iT oor hoe hulle mekaar ondersteun en saam hulle drome bereik.
Die paartjie het in 2012 deur ‘n gesamentlike vriend ontmoet toe André op Douglas gaan kuier het.
Geweet dit is dié een
“Ek het geweet wat ek soek in ‘n vrou, dit is hoekom ek so lank enkellopend was. Ek was net ‘n uur of twee in Reshelle se geselskap, toe weet ek sy is die een. Ek het dit natuurlik nie onmiddellik vir haar gesê nie. Ek wou haar net eers laat verlief raak op my voordat ek vir haar sê sy is my trouvrou,” sê André.
“Ek was ook vir lank enkellopend voordat ons ontmoet het. Ek het net nie belanggestel in ‘n verhouding nie. Ons het so een keer ‘n maand as vriende met mekaar gekuier, maar ek het op hom begin verlief raak. Dit was regtig ‘n oortuiging van die Here af dat hy die een is,” sê Reshelle.
Reshelle het ook ‘n lys opgestel oor wat sy graag in ‘n man wil hê. Sy het eendag vir André die lys gewys om hom te wys dat die Here vir haar presies só ‘n man gegee het. Al wat André gesê het, is: “Daai man bestaan nie,” min wetend dat Reshelle na hom verwys het.
Hulle het twee jaar uitgegaan voordat hulle verloof geraak het. Hulle het in Mei 2015 getrou.
Wat hou hulle verhouding sterk
“My gunstelingspreekwoord is die vraag is nie wat kan jy kan doen vir die wêreld nie, maar eerder wat laat jou lewendig voel? Dit is wat die wêreld verander. Ons maak seker ons maak tyd vir die dinge waaroor ons passievol is en ons lewendig laat voel,” sê André.
“Ons toer baie en sien die wêreld saam. Ons doen saam fotografie en videografie. Ek skilder en André rooster koffie. Dit het alles as ‘n passie begin. Ons maak nou geld daaruit, maar dit maak ons gelukkig. Alhoewel ons persoonlikhede baie verskil, ondersteun ons mekaar,” sê Reshelle.
“Eenheid is die antwoord. Ons doen alles saam. Ons staan saam. Ons dra mekaar se laste. Ons droom saam,” vertel André.
Kinders in die toekoms?
“Ons het nog nie kinders nie, maar dit is doelbewus. Ons wil eers ‘n sekere gedeelte van ons lewe geniet, sodat wanneer ons kinders kry, ons dit ten volle kan geniet. Alle fases in jou lewe verg ‘n mens se volle aandag. Ons is nie bang om kinders te hê nie. Dit is definitief deel van ons toekomsplanne,” sê André.
Waar sien hulle hulleself oor vyf jaar?
Hulle wil definitief binne die volgende vyf jaar kinders hê en vyf nuwe lande besoek.
Boodskap aan ander paartjies
“Wanneer mens trou, lewe jy vir mekaar en nie meer vir jouself nie,” volgens André. “Mens moet eerder dink wat kan mens doen om die ander persoon gelukkig te maak,'” sê Reshelle.
“Jou huwelik is die belangrikste verhouding wat jy in jou hele lewe sal hê. Jou ouers gaan een of ander tyd sterf. Jou kinders verlaat jou huis, maar jou maat is die een wat saam met jou agterbly. Jy moet besef dat indien jy ooit ‘n keuse moet maak, jou maat jou eerste keuse moet wees.”




