Gewapende Carringtonstraat-verdagte word gesoek

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Die polisie in Kimberley ondersoek ’n saak van gewapende roof nadat ’n vrou (49) vanoggend in Carringtonstraat deur ’n verdagte met ’n mes aangeval en beroof is.

Kol. Dimakatso Mooi sê die slagoffer het vroeg in die oggend gedraf toe sy deur ’n manlike verdagte met ’n mes aangeval is. Hy het haar van haar handskoene en horlosie beroof.

Geen arrestasies is tot dusver gemaak nie. Die ondersoek duur voort.

Sekuriteit op drawwers se roetes moontlik ’n oplossing

Rudolf van der Westhuizen, ondervoorsitter van Vodacom Kimberley Road Runners-hardloopklub, sê hulle is besig om ’n plan te beraam om dit veiliger vir drawwers in woonburte te maak.

Van der Westhuizen beveel die volgende wenke aan:

  • Hardloop in groepe van drie of meer. Misdadigers sal twee keer dink om ’n groep aan te val.
  • Moenie jou lewe in gevaar stel deur te baklei vir jou persoonlike besittings nie. Jou lewe is kosbaarder as enige besitting.
  • Stel jou geliefdes of vriende in kennis van die roete waarlangs jy gaan draf. Vra dat hulle jou terug skakel of kom soek as jy hulle nie na ’n drafsessie kontak nie.
  • Vermy om soggens of saans alleen in die donker te draf. Draf eerder saam met ’n groep vriende.