Handrie van Bergen (22) is een van baie min vrouens in Suid-Afrika wat aan bulry-kompetisies deelneem. Die gogga het haar gebyt en op 22 Junie 2019, nadat sy teen ’n groep mans moes kompeteer, het sy die wenprys gekry.
Hoe het jy begin?
“Sarina van Bergen (27), my suster, het altyd deelgeneem aan rodeo’s en het my eenkeer toe ek saamgegaan het, aangemoedig om ook bul te ry. Ek wou dit nog altyd doen, maar omdat ek die ongeluksvoël in die familie is en reeds ou beserings het, wou my ouers nie hê ek moet dit ook doen nie.”

Sy sê na haar eerste bulrit het die gogga haar gebyt. “Van daar het ek by elke rodeo wat gehou is bul gery. Ek het ook met my perd by die rodeo’s deelgeneem totdat sy nou moes aftree.”

Die gevoel as jy deelneem
“Die gevoel wat mens kry wanneer jy deelneem, is baie moeilik om te beskryf. As ek deelneem voel ek kompleet soos ’n cocktail van emosies. Daar is adrenalien, opwinding, vrees maar tog ook gewilligheid. Dit is iets van alles.”
Van Bergen sê dit is ’n gevoel wat jy nie sommer by ander sporte kry nie. “Dit is mens-teen-dier en om die voorreg te hê om daardie krag van die bul te voel, is onbeskryflik.
“Dit is ongelooflik hoeveel mense na die rodeo’s kom, die bulry kyk en die atmosfeer wat dan daar ontstaan. Dis baie lekker om deel te neem. Ons rodeo-mense is soos een groot familie, so almal ondersteun mekaar.”
Tot ek my doel bereik
Sy sê sy het in 2018 met rodeo begin en het sedertdien al aan ’n paar kompetisies deelgeneem. “Ek beplan om aan te hou totdat ek my doel bereik het. Ek wil graag kan kwalifiseer vir die finaal. Ek gee ook glad nie om hoeveelste ek eindig by die finaal nie. Dit gaan baie harde werk verg en dit is glad nie maklik om te kwalifiseer daarvoor nie.
“Deur die jaar moet jy aan die kwalifiserende rondes deelneem. Die bul wat jy trek, is die bul wat jy moet ry. Albei word punte gegee, so as jou bul nie goed is nie kry hy nie baie punte nie. Indien jy ’n goeie bul kry wat mooi spring, kry jy meer punte. Die ruiter se ry-styl moet ook reg wees, maar gaan meer oor die bul wat jy moet ry.”
Rodeo’s word op verskillende plekke deur die jaar gehou. “Ons word dan in kennis gestel waar die volgende rodeo is en op watter datum dit plaasvind. Enigeen is welkom om te kom deelneem met hulle perde en aan die ander aktiwiteite wat aangebied word.”
Moeilikste agt sekondes
“Om te ‘wen’ moet jy agt sekondes op die bul wees voor die klok afgaan. Wanneer die klok lui, moet jy van die bul afkom. Dit is van die rofste en hardste agt sekondes, maar ek het al die voorreg gehad om ’n paar agt sekondes te vermag. Dit is glad nie maklik nie.”
Sy sê sy is al baie keer van die bul afgegooi en het al soveel grond gekoop, sy het amper ’n plaas. “Alles gebeur so vinnig, so met ’n moeilike sprong wat die bul maak of ’n verkeerde beweging wat jy maak, is jy af!”
Tweede kans
Van Bergen sê sy het op 22 Junie ’n tweede kans gekry om op Dummy, ’n bul wat haar voorheen afgegooi het, te kon ry. “Ek het weer vir Dummy getrek en moes myself voorberei, want ek weet hoe hy kan spring. Ek het gesit met alles wat ek in my het en het afgespring toe die klok lui. Daardie agt sekondes het gevoel soos ’n ewigheid.”
Sy was die enigste vrou wat op daardie dag deelgeneem het en het daardie aand by die prysuitdeling as wenner weggestap.








