KIMBERLEY – Stakings deur munisipale werkers kan na bewering môre in die middestad voortgaan.
’n SAMWU-lid het aan FiND iT bevestig hulle permit is goedgekeur en gaan môre terug na die middestad.
FiND iT het vroeër vandag berig werkers van die Sol Plaatje-munisipaliteit het rommel deur die middestad gestrooi en verkeer voor die stadsaal tot stilstand gebring.
Kontrakwerkers het vroeër die maand permanente aanstellings geëis. Hulle versoek ook ingryping oor vrugtelose uitgawes by die munisipaliteit. Hulle wil ook hê die raad moet die 106-verslag* bespreek.
Dailey Semau, voorsitter van SAMWU, sê die munisipaliteit het die memorandum met die versoeke verwerp. Die premier het op die memorandum reageer en gesê hy sal met die munisipaliteit onderhandel en aan die unie terugvoer gee.
Semau sê meer stakings kan verwag word.
* Die verslag bevraagteken onder andere Ruth Sebolecwe, ’n vorige waarnemende munisipale bestuurder, se rol in die onreëlmatige toegang tot die munisipale rekenaarstelsel wat aan die opgeskorte munisipale bestuurder, Goolam Akharwaray en die opgeskorte hoof finansiële bestuurder, Lydia Maholko, verleen was. Die verslag verwys ook na die Hawks se ondersoek na die onregmatige aanstellings van vriende en familie onder haar bestuur, en haar onvermoë om rekening te hou van al die EPWP-werkers op die munisipale sisteem.
Lees vorige artikel en kyk video hier.



