Sakeman steeds in aanhouding in Zimbabwe

Deel hierdie storie / Share this story

ZIMBABWE. – Die Kimberleyse sakeman wat op aanklag van die besit van renosterhorings in hegtenis geneem is, het weer in die hof verskyn.

Brent Lunt van Kimberley, Suid-Afrika en Nyasha Matendawafa van Zimbabwe is vir die onwettige besit van die horings in hegtenis geneem. Albei het gister in die landdroshof in Harare verskyn. Borgtog is weer geweier.

Die polisie in Zimbabwe het op 2 Julie tydens ‘n klopjag op vier renosterhorings ter waarde van $235 000 (R3.3 miljoen), met ‘n gesamentlike gewig van 5,9 kg, beslag gelê.

Vlugrisiko

Luidens die klagstaat word die mans as ‘n vlugrisiko beskou.

Speurder Thomas Karimundengu, die ondersoekbeampte, sê die polisie het die klopjag uitgevoer nadat inligting ontvang is oor die verdagtes wat die renosterhorings in Msara wil verkoop.

Vier renosterhorings

“Daar is aangedui dat die verdagtes die horings met ‘n wit Toyota vervoer. Die polisie het die voertuig afgetrek en die verdagtes het hulleself geïdentifiseer. Die polisie het die voertuig deursoek en verdagte nommer een het ’n blou sak op sy skoot gehad. Die sak het vier renosterhorings bevat.”

Die verdagtes is gevra om bewyse te lewer dat hulle die horings mag vervoer, maar kon dit nie lewer nie.

Waar kom horings vandaan?

Karimundengu sê die kans dat die verdagtes sal vlug, is baie hoog. Lunt was onwettig in Zimbabwe en het reeds die immigrasiewet oortree. Die bewyse teen albei verdagtes is oorweldigend en die vonnis is baie hoog. Daar is ook uitstaande ondersoeke en die polisie moet ook die oorsprong van die horings ondersoek.

Die verdagtes bly in aanhouding tot 2 Augustus, wanneer die saak weer in Harare voorkom.