Die DA in die Noord-Kaap doen ‘n beroep op die gesondheidsdepartement om hul sekuriteit te hersien nadat ’n pasiënt by ‘n gesondsheidsentrum op Barkly-Wes verkrag is.
Luidens ’n persverklaring deur Andrew Louw, die provinsiale leier van die DA, is ’n pasiënt, ’n jong vrou (19), oor die naweek deur ’n ander pasiënt, ’n 32-jarige man, by die Professor ZK Matthews-gemeenskapgesondheidsentrum verkrag.
Louw sê die DA is geskok dat só ‘n misdaad by ’n staatsinstansie kon plaasvind. Hy sê hospitale en gesondheidsentrums is plekke waarheen mense gaan om mediese sorg te ontvang en in ’n veilige omgewing te herstel. Louw sê dit is nie reg dat pasiënte met een kwaal die sentrum besoek en dit gebroke en getraumatiseerd verlaat nie.
Die DA neem kennis dat die gesondheidsdepartement die voorval ondersoek, maar dit moenie as ’n geïsoleerde voorval beskou word nie, sê Louw.
Hy sê daar is oor die algemeen ’n gebrek aan sekuriteit by gesondheidsentrums in die provinsie.
Die DA gaan die departement versoek om sekuriteit by alle gesondheidsentrums in die Noord-Kaap te assesseer. ’n Informele ondersoek gaan ook deur die party geloods word.



