Brandweer ontbied ná motorhuis uitbrand

Deel hierdie storie / Share this story

’n Inwoner van Herlear het swart rook by die motorhuis van ’n verlate huis in Minervastraat opgemerk en toe onmiddellik die brandweer ontbied.

Die inwoner sê hy het nie gesien hoe die brand ontstaan het nie, maar vermoed hawelose mense het dit begin.

Verlate huis na bewering deur ’n internasionale maatskappy besit

Luidens die inwoner het hy Augustus verlede jaar probleme oor die verlate huis aan die eienaar bekend gemaak. Hy sê hy het by verskeie geleenthede mense gesien wat trollies met ware, soos onder andere yster, van die eiendom wegdra. 

Die inwoner sê na bewering het die maatskappy verskeie aanbiedinge van persone wat die eiendom wil koop van die hand gewys.

Vir ’n jaar nadat die maatskappy na bewering belowe het om ondersoek by die eiendom in te stel, het hy geen verdere terugvoering ontvang nie, sê die inwoner.

Kimberley-brandweer en ER24-nooddienste was op die toneel. Niemand is in die brand beseer nie.