Anelda Botes, ’n vrou van Kimberley en oudleerling van Hoërskool Diamantveld, het rare atmosferiese verskynsels in Khiri Rat Nikhom, Surat Thani, in Thailand waargeneem.

Botes sê sy was buite die skool toe haar klas die halo (stralekrans) aan haar gewys het. Dit was ‘wow’, die kinders was gefassineer daarmee, sê sy. Wat dit nog meer uitsonders maak, is dat ’n sonsverduistering op dieselfde dag plaasgevind het, verduidelik Botes.

’n Stralekrans asook ander atmosferiese verskynsels wat as ligpilare en sundogs (spooksonne) bekend staan, word gevorm wanneer lig deur yskristalle weerkaats word.

Luidens ’n astronomie-webtuiste bepaal die grootte en die vorm van die yskristalle asook die hoogte waar dit voorkom, watter tipe optiese verskynsel ’n persoon op die grond sal waarneem.

Yskristalle die oorsaak van optiese verskynsels

Yskristalle kan enige tyd van die jaar op enige plek op aarde hoog in die atmosfeer gevorm word. Normaalweg word die seskantige yskristalle in cirruswolke gevind. Soms in baie koue weer vorm die yskristalle naby aan die oppervlakte van die aarde. Hierdie yskristalle word diamantstof (diamond dust) genoem, verduidelik die webtuiste. 

Terwyl hierdie yskristalle altyd ’n seskantige vorm het, is dit die hoek waarteen die fasette gevorm het, wat die optiese verskynsel bepaal. Luidens die webtuiste is die hoek waarteen die fasette vorm altyd 60° of 90°, en word optiese verskynsels deur wetenskaplikes in díe twee kategorieë geklasifiseer.

Parheliese sirkels is meer raar as ander optiese verskynsels

Volgens die webtuise kan parheliese sirkels om die maan of son verskyn, wanneer yskristalle vertikaal vorm. Oor die algemeen kan net ’n gedeelte van die sirkel gesien word. 

Sundogs is nog ’n tipe optiese verskynsels

’n Sundog wat ook as ’n spookson (parhelion) bekendstaan, is ’n optiese verskynsel wat gedurende sonsondergang voorkom. Dit kan as twee kolle langsaan die son verskyn wanneer sonlig deur yskristalle in cirruswolke skyn, verduidelik die webtuiste.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: