Charl du Plessis (59) is op 14 Maart 2019 gediagnoseer met kanker. Ná 28 dae se bestraling en chemoterapie het die kanker egter versprei. Hy moet dus nou gaan vir ’n operasie om die kanker te verwyder.
FiND iT en Honey Zzoom Cakes and Party Treats het ’n kompetisie gehou waar ’n keurig versierde koek op die spel was. Charl se twee dogters, Charica en Rencha, het hom genomineer vir die prys.
Hier is ’n ope brief van die twee susters.
Charica
“Pappa, ek weet hierdie is ’n heeltemal nuwe en onbekende pad. Maar volgens my het Pappa al klaar een van die grootste battles gefight. Pappa het nog nie opgegee nie. Pappa gaan vir die behandelings en Pa bly positief. Die nuwe nuus is ’n groot skok, maar ons gaan saam met Pappa baklei. Elke tree. Pappa is baie sterker as wat ek ooit kon dink. Ek is so trots op Pappa! Nou gaan die groot operasie kom, maar ons weet Pappa Jesus sal elke persoon in daardie teater se hande vashou sodat hulle Pappa die beste sorg moontlik sal gee. Ons gaan vir Pappa buite die teater sit en wag en baie hard bid. Pappa hoef nie bang te wees vir die operasie nie, want dit is die drie ure wat Pappa die lekkerste gaan slaap! En onthou, Pappa beter die slapie geniet, want as Pappa daar wakker word, is daar ‘n klein apie en vier groot apies wat Pappa gaan wil sien. Baie baie lief vir Pappa!”
Rencha
“Pappa, in my oë is Pappa al reeds ‘n survivor! Ek het nooit geweet Pappa is so ‘n sterk mens nie, totdat God hierdie oor ons pad gestuur het. Pappa se grootste vrees het realiteit geword. Ek weet dat Jesus daardie dokters se hande gaan vashou en vir Pappa die rustigheid gee waarna Pa verlang. Gee oor aan Hom, al Pa se vrese en negatiewe gedagtes. Ons is bitter lief vir Pa. Sonder Pa se nukke en grille sou ons lewe maar vreeslik vervelig gewees het. Baie sterkte met die operasie en hou aan terugbaklei, want Pa is vir ons kosbaar. Ons wag vir Pappa buite die teater en Lucy wag by die huis!”




