Onbillike ontslag kos munisipaliteit drie jaar se salaris

Deel hierdie storie / Share this story

Die DA in die Noord-Kaap doen ‘n beroep op die premier, dr. Zamani Saul, om toe te sien dat Sol Plaatje-munisipaliteit gehoor gee aan ’n hofbevel van die arbeidshof nadat die munisipaliteit ’n vlaag van arbeidsgeskille verloor het.

Andrew Louw, provinsiale leier van die DA, sê: “Die hofbevel is die gevolg van onbillike ontslag van werkers onder die voormalige burgemeester, Mangaliso Matika en hoof van korporatiewe dienste, Ruth Sebolecwe.”

Voorts sê hy: “Net onlangs het Herbert Japhta, ’n nuwe DA-raadslid, sy saak gewen. Japtha is in 2016 by die munispaliteit uitgewerk omdat hy uitgesproke was oor korrupsie wat senior personeel by die munisipaliteit betrek.”

“Japtha se posisie by die munisipaliteit is oorbodig gemaak nadat Matika en Sebolecwe ’n vriend in die posisie aangestel het. Dit het gelei tot ‘double-parking’. Hulle het dit as gronde gebruik om Japtha af te dank,” verduidelik Louw.

Louw sê: “Die munisipaliteit moet nou drie jaar se salaris aan Japtha uitbetaal. Die waarnemende munisipale bestuurder, Boy Dhluwayo, het in ’n brief vir Japtha opdrag gegee om op 26 Junie vir diens aan te meld. Japtha het vir werk opgedaag, maar is met weerstand begroet.”

Voorts sê hy: “Japtha het sy huis en sy trots as gevolg van die wanpraktyke by die munisipaliteit verloor. Daarom gun die munisipaliteit hom die kans om alles wat hy verloor het te herwin.”“Japtha se saak is nie ’n geïsoleerde geval nie. ‘Double-parking’ is ’n strategie en modus operandi wat gebruik word om ontstlae te raak van amptenare wat ’n bedreiging is vir diegene soos Matika en Sebolecwe. Die munisipaliteit is reeds meer as R16 miljoen verskuldig aan plaaslike regsfirmas oor arbeidsgeskille,” verduidelik Louw.