Kleinskaalse myners soek huise

Deel hierdie storie / Share this story

Ontstoke gemeenskapslede en kleinskaalse myners van Greenpoint, Samaria en Galeshewe het vanoggend omstreeks 09:00 voor die Kemo-hotel in Sqaure Hill Park bymekaargekom om memorandums aan die polisie, die burgemeester en die premier van die Noord-Kaap te oorhandig.

Die massas het vanaf die Kemo-hotel tot by die premierskantoor marsjeer. Barbara Bartlett, die LUR vir maatskaplike ontwikkeling in die Noord-Kaap het namens dr. Zamani Saul die memorandum ontvang. ’n Memorandum is ook aan die polisie oorhandig.

Kagiso Aries, komiteelid van Rythm City, het die groep verteenwoordig.

Aries sê: “Die gemeenskap is moeg vir swak dienslewering. Hulle het ook lank genoeg vir behuising en grond gewag. Hier is mense wat meer as vyf jaar vir behuising wag. Hulle naam is op ’n lys. Maar niks gebeur nie.”

Man verloor lewe vir sy plakkershut

Voorts sê hy: “Lincoln Moloko (46) was ook een van hierdie mense. Hy was so desperaat vir blyplek, hy het ’n plakkershut in die veld by St. Boniface opgerig. Die polisie het gekom. En hy is dood.”

“Hierdie mense woon in walglike toestande terwyl die myne langsaan hulle miljoene maak. Die probleem vir die kleinskaalse myners hier is die diamante wat hulleself en die myn uit die grond haal, wat vir ’n appel en ’n ei opgeraap word en dan ten duurste oorsee verkoop word,” verduidelik Aries.

Die groep het vanaf die premierskantoor tot by die hoofkantoor van Sol Plaatje-munisipaliteit beweeg. Daar het hulle ’n memorandum aan Patrick Mabilo, die burgemeester van Kimberley oorhandig.

Mabilo het die groep gewaarsku om nie op privaatgrond te oortree nie. Voorts sê hy: “Die gemeenskap en die munisipaliteit gaan saam moet werk om ’n oplossing vir die probleme met behuising en basiese dienste soos water en elektrisiteit te vind.”