Verkrag in my eie huis – leser vertel

Deel hierdie storie / Share this story

“Ek was 15 jaar oud toe ek verkrag is. Dit het in my eie huis gebeur. My ma en pa was die aand uit na ‘n braai by vriende se huis en my ouer suster het saam met haar vriende na ‘n band gaan kyk.”

“Na die konsert, het my suster ‘n paar van die mense oorgenooi na ons huis toe, maar daar het meer mense opgedaag as wat sy gedink het. Baie van die mense het sy nie eers geken nie. Ek het vir haar gesê dat dit ‘n baie slegte idee is, aangesien ons nie weer hoe laat ons ouers sou terugkom nie, maar het nogsteeds deelgeneem aan die partytjie. Omdat ek nie wou lyk soos iemand wat niks weet nie, het ek ‘n bier by ‘n ouer seun aanvaar.”

“Ek het op die bank gesit en bietjie-bietjie daarvan gedrink, toe ek begin lighoofdig voel. Die ouer seun het aangebied om my na my kamer toe te neem. Ek het in daardie stadium nie geweet waar my suster was nie en het sy hulp aanvaar. Terwyl ons by die trappe opgeloop het, het ek gevoel hoe my bene begin lam word. Teen die tyd wat hy my in my bed neergelê het, het dit gevoel asof ek glad nie meer my lyf kan beweeg nie.”

“Dit is toe dat hy my kamerdeur toegetrek het en my verkrag het. Ek het gevoel of ek skree, maar daar het nie ‘n geluid uit my mond uit gekom nie. Toe hy klaar was, het hy geloop en die deur agter hom toegetrek. Ek kon nie beweeg nie. Ek het na ‘n hele ruk my bewussyn verloor, of aan die slaap geraak. Ek is nie seker nie. Ek was baie deurmekaar en duislig toe ek die volgende oggend wakker word. Ek het opgestaan en na my ouers se kamer gegaan om vir hulle te vertel wat gebeur het. Hulle was nog aan die slaap. Ek het toe besef dat ek nie eers weet wie die persoon is of wat sy naam was nie.”

“Ek het net daar besluit om vir niemand te vertel nie. Ek het in die stort gespring en seker vir twee ure lank my lyf gewas. Daarna het ek my klere weggegooi. Ek het nooit vir enigiemand vertel nie. Dit is die eerste keer wat ek vir enigiemand vertel (buiten my man) wat met my gebeur het.”

“As ek terugdink daaraan, is dit net die Here se genade dat ek nie swanger geraak het of ‘n siekte opgedoen het nie. Ek was baie naïef om nie hulp by ‘n dokter of kliniek te gaan soek nie, maar ek het nog nooit voor dit seks gehad nie, dus het daardie moontlikhede nie eers by my opgekom nie.”

“As gevolg van wat met my gebeur het, het ek eers in my laat 20’s vir die eerste keer begin date. Ek is vandag getroud met ‘n wonderlike man wat my op daardie eerste date geneem het. Dit het my baie lank gevat om hom te leer vertoru, maar hy het baie geduld met my gehad. Ongelukkig was die skade reeds gedoen en sukkel ek nogsteeds vandag met OCD (obsessive compulsive disorder). Wanneer ek nie in beheer is van ‘n situasie nie, kry ek angsaanvalle.”