Verlore jong flamink miskien nie van Kamfersdam nie

Deel hierdie storie / Share this story

’n Jong flamink is op ’n erf in Kwelera naby Oos-Londen gevind. Die flamink is moontlik van sy swerm geskei en vermoedelik deur ’n persoon na die gebied gebring.

Die direkteur van Pan-African Association of Zoos and Aquaria (PAAZA), John Werth, het aan DispatchLIVE gesê: “Die flamink is in ’n goeie kondisie, maar is nog te jonk om te vlieg. Daarom word dit vermoed die flamink is deur ’n persoon tot hier gebring.”

Voorts sê hy: “Ons sien nou eers die jong flaminke op Kamfersdam hulle vlerke strek. Daarom kon hierdie flamink nie tot hier gevlieg het nie.”

Donovan Smith, ’n plaaslike veearts, se mening verskil. Smith sê: “Die kleur van die flamink wat in die Oos-Kaap gevind is, lyk nie soos dié van die jong flaminke wat ons by Kamfersdam vrygelaat het nie. Dit is moontlik dat hierdie flamink vanaf Botswana of elders afkomstig is. Dit het moontlik die swerm op pad na Jeffreysbaai verloor.”

“Een van die 60 flaminke, wat op 8 Mei by Kamfersdam vrygelaat is, is op ’n strandmeer in Lüderitz in Namibië gewaar. Die flamink wat bekend is as nommer 0317 is deur dr. Jessica Kemper afgeneem. Luidens foto’s is die flamink in ‘n goeie kondisie. Ek het gevra dat sy ’n oog hou op ‘ons’ spesiale flamink,” verduidelik Doug Harebottle, ’n senior lektor by Sol Plaatje-universiteit op die Facebook-groep Save The Flamingo.  

Katta Ludynia, ’n besturende navorser by Sankub, sê: “Soos ons in Lüderitz gesien het, kan jong flaminke lang afstande aflê. Kamfersdam is die enigste plek in Suid-Afrika waar flaminke broei, maar hulle word nog regoor die land gesien. Omdat die flamink sonder sy swerm in die Oos-Kaap gevind is, beteken dit nie die flamink is deur ’n persoon tot hier gebring nie.”