’n Man is vroeg gisteroggend met pepersproei gespuit toe ’n onbekende man deur sy woonstel se badkamervenster, in Ashestraat, klim.
FiND iT was op die toneel, waartydens die klaer buite sit en wag het, terwyl die polisie die woonstel deursoek het. Hy kon nie toegang tot die woonstel kry voor die ondersoek van sy woonstel nie voltooi was nie.
“Die voorval het omstreeks 07:10 gisteroggend plaasgevind. Die 35-jarige klaer het na die badkamer gegaan toe ’n onbekende man deur die badkamervenster klim,” verduidelik kapt. Tessa Jansen, polisiewoordvoerder. “Die onbekende man het die klaer na bewering met ’n skerp voorwerp gedreig, waarna hy die klaer toe met pepersproei gespuit het.”
Jansen sê die verdagte het na bewering met twee skootrekenaars en met twee selfone gevlug. “’n Saak van huisbraak is gister geopen.”



