Dwaalgees in die kombuis – leser vertel

Deel hierdie storie / Share this story

*** Spookstories word ingestuur deur FiND iT lesers en is nie die opinie van FiND iT nie***

“Ek en my man bly al jare in dieselfde huis. Ons was pas getroud toe ons hier ingetrek het en het nog nie kinders gehad nie. Soos dit maar met enige nuwe paartjie gaan, het ons nie veel meubels gehad nie en het ons hier en daar ‘n paar erfstukke by ons ouers gekry. Ek het ‘n baie ou swaar houttafel by my ouma gekry. Die houttafel het ons in die kombuis gesit.”

“Nadat ons die eerste aand in die huis geslaap het, het ek die oggend wakker geword en toe ek by die kombuis instap, het die tafel nie meer gestaan waar ons hom gesit het nie. Hy het seker om en by ‘n meter na regs geskuif. Ek het eers gedink ek verbeel my en ek en my man het die tafel net weer teruggeskuif. Dit was ‘n baie swaar tafel so dit het altwee van ons geneem om hom weer reg te skuif.”

“So het dit elke oggend vir ‘n week gegaan voordat ek net moed opgegee het en opgehou het om die tafel terug te skuif. Soos die jare verbygestap het, het ons die kombuis laat oordoen en ontslae geraak van die tafel.”

“Jare later het my seun my eendag benoud geroep en gesê daar staan ‘n man op die agterstoep, maar toe ek daar kom, was daar niemand. Ons het in daardie stadium reeds mure om die erf laat bou, so dit sou moeilik wees vir iemand om oor te klim.”

“Ek was eendag alleen by die huis, besig om die kombuisvloer te vee, toe die kombuisdeur wat na die stoep gaan, onbeheerbaar begin skud. Dit was een van daardie sifdeure waardeur mens kan sien. Dit was asof iemand aan die ander kant hamer, maar daar was niemand daar nie. My honde, wat baie beskermend is, het begin tjank en gaan wegkruip. Dit het aangehou vir seker so 15 sekondes. Ek was so geskok dat ek net daar gevries gestaan het tot dit verby was.”