’n Varkhond (bull terrier) van twee jaar oud het tydens ’n plaasaanval oor die naweek sy eienaar se lewe gered.
Alex Sandenbergh (66) wat al vir die laaste 29 jaar op sy plaas buite Prieska woon, het die naweek ’n plaasaanval oorleef, na sy varkhond, Triton, ingespring het.
Sandenbergh se skoondogter, Pikkie Sandenbergh, het met FiND iT gesels oor wat Saterdagaand omstreeks 19:20 op die familieplaas gebeur het.
Twee onbekende mans
“My skoonpa was alleen op die plaas toe die aanvallers toeslaan. Hy het gaste wat by hom gebraai het, na hulle motor begelei. Hy het terug na die rondawel, waar hulle gebraai het, gegaan om die ligte af te sit. Twee onbekende mans het by die rondawel ingestap. Die oomblik toe die aanvallers instap, het hy vir Triton geroep wat op die bank in die rondawel geslaap het.”
Pikkie vertel hoe hulle vir Triton sowat ’n maand gelede vir haar skoonpa gegee het, na sy rifrug aan ’n hartaanval dood is. “Daar was geen hond op die plaas nie, so toe gee ons Triton vir hom.”
Triton spring in
“Triton het dadelik die aanvallers gegryp toe my skoonpa hom roep. Ongelukkig is Triton drie keer met ’n mes gesteek, voordat hy laat los het en die aanvallers gevlug het. Na die voorval het my skoonpa dadelik my man, Burger Sandenbergh, gebel. Ons het dadelik op plaaslike noodgroepe om hulp gevra. Mense in die gemeenskap het dadelik gereageer en help soek tot laatnag, maar geen verdagte is tot dusver aangekeer nie.”
Sy sê die aanvallers is onbekend aan hulle en is nie van haar man se plaaswerkers nie.
Emosioneel van dankbaarheid
“My skoonpa is genadiglik glad nie beseer nie, maar het baie groot geskrik en is baie emosioneel van dankbaarheid dat dit so uitgedraai het. Ander boere is nie so gelukkig nie. Hy was net baie hartseer oor Triton. Toe hy ons daardie aand bel, het hy gesê hy is nie seker of Triton sou oorleef nie, omdat hy vreeslik bloei.” Sy sê hulle het ’n plaaslike suster geskakel wat dadelik uitgery het na die plaas toe. “Sy het vir Triton steke ingesit en het hom ook onder narkose gesit, omdat die een wond in sy rugspier was.”
Pikkie sê Triton is nou weer sy ou self. “Hy het Maandag weer kliphard saam met ons geboer.”





