Man steek eie vrou en kleindogter met mes

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Clayton Monroe Lee (38) wat teregstaan op vier klagtes o.a. die moord van sy vrou, Mitashja Estelle Lee, hoor in Julie of hy skuldig bevind word. Sy vrou was ‘n polisiebeampte in die Suid-Afrikaanse polisiediens.

Hy het vandeesweek hier in die hooggeregshof verskyn. Die saak is tot Maandag 1 Julie uitgestel.

Wou dogter ook steek

Die beskuldigde was by sy huis in Roodepan op 20 Augustus 2016 terwyl sy dogter in die kombuis besig was om vir hom kos warm te maak. Die beskuldigde het luidens hofdokumente ’n mes in die kombuis gegryp. Hy het sy dogter probeer steek, maar sy het gekoes en die hou het haar gemis.

Steek kleindogter raak

Die beskuldigde het na buite gegaan, waar sy vrou met hulle kleindogter in haar arms gestaan het. Hy het sy vrou herhaaldelik met die mes gesteek. Sy kleindogter is raakgesteek en sy vrou en kleindogter het op die grond geval.

Sit bo-op haar

Die beskuldigde het bo-op die slagoffer gaan sit en haar herhaaldelik met die mes gesteek. Johannes Vaarland, gemeenskapslid, het op die toneel afgekom en het die beskuldigde probeer stop. Die beskuldigde het hom ook gesteek. Ralph Slade, nog ‘n gemeenskapslid, het opgedaag. Vaarland en Slade kon saam die beskuldigde ontwapen en onder beheer bring. Nooddienste is ontbied en die beskuldigde is in hegtenis geneem.

Sy vrou het op die toneel as gevolg van veelvuldige steekwonde omgekom.

Lee word van moord en drie klagtes van aanranding met die opset om ernstig te beseer, aangekla.