Man steeds in aanhouding na skietery

Charl Stoltz (45) het vandag in die Kimberley-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord en die afvuur van ’n pistool in ’n munisipale/publieke area, nadat hy Maandag 10 Junie 2019 ’n man in die rug geskiet het omdat die man na bewering hulle selfoon gesteel het.

Onbekende mans

Hy het na bewering in die motor vir sy vrou en kinders gewag, wat by binnelandse sake hulle seun se ID gaan haal het, toe ’n onbekende man vir hom wys daar is iets fout met sy motor se agterkant. Hy het uitgeklim om te sien wat is fout, toe die onbekende man weggehardloop het. Stolz het omgedraai en gesien hoe ’n tweede onbekende man die motor se passasiersdeur oopmaak en sy vrou se selfoon, wat op die sitplek gelê het, gryp en begin weghardloop.

Vir bene gemik

Na bewering het hy herhaaldelik vir die man geskree om te stop en het toe ’n waarskuwingskoot afgevuur. Die onbekende man het egter nie gestop nie en Stoltz het die man in die rug geskiet. Stolz het onder eed in ’n verklaring verduidelik dat hy vir die man se bene gemik het. In die verklaring het hy ook gesê omstanders het hom in kennis gestel dat die man ’n mes by hom gehad het. Omstanders het aan Stoltz bevestig dat iemand die mes gevat het nadat hy die man geskiet het.

Ondersoekbeampte

Adjudant Johannes Markgraaff het aan die hof vertel dat Stoltz reeds vier vorige klagtes teen hom het, wat tussen 1992 en 1995 plaasgevind het. Twee koeëldoppies is op die toneel gekry. Hy het ook bevestig dat die onbekende man Robert Sobukwe-hospitaal toe geneem is en dat hy steeds in die hospitaal is.

A.o. Markgraaff het vertel ’n suster by die hospitaal het hom in kennis gestel die koeël sit in die man se rug vas. Hy het ook gesê die man se nier bloei en hy nie sy bene kan beweeg nie, maar dit is nog net spekulasie dat die vermeende dief verlam is.

Voorwaardes

Voorwaardes van Stoltz se borgtogaansoek sluit in dat, indien hy op borgtog vrygelaat word, hy R2 000 borgtog betaal, hy weekliks by die naaste polisiekantoor (Vanderkloofdam) sal aanmeld en hy nie met die ooggetuies of met die slagoffer in kontak sal kom nie.

Die saak staan tot môre oor, wanneer uitspraak gegee sal word oor Stoltz se borgtogaansoek. Hy word in aanhouding gehou tot hy môre weer in die landdroshof verskyn.

Charl en sy vrou, Tracy.
Foto: Facebook

2 thoughts on “Man steeds in aanhouding na skietery

  1. Steel maar krimineel, moor maar, hier in SA word jy beskerm.
    Laay my wonder, HOEVEEL REGSLUI EN DIE IN DIE PARLEMENT MOET EINDELIK TRONK KOS VREET….

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: