Beseerde een-oog perd gered

Die eienaar van ’n perd van Midlands, buite Roodepan, word gesoek nadat dié perd deur die Sol Plaatje-munisipaliteit se skutmeester verwyder is.

Leon Lötter, skutmeester van die munisipaliteit, sê hy het ’n klagte vanaf ’n inwoner oor die perd ontvang.
“Twee jong manne het glo die perd gery. Hulle het perde van die inwoner probeer jaag om van die kleiner perde te vang.” Die mans wat die perd gery het, het weggehardloop.

Toestand van die perd

Lötter is baie geskok oor die toestand van die perd en sê dit het hom ontstel. “Die perd het net een oog, hy het saalsere, is ondervoed, vuil en sy hoewe is nie met ysters beslaan nie.”

Lötter en Robbey Zitha, sy assistent, het die perd verwyder en sal ’n verslag by die staatsveearts kry.

“Ons het die voorval by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) aangegee.”

Tot die redding

Lötter is skutmeester by die munisipaliteit en sy plig is om mishandelde en rondloperdiere te verwyder en die eienaars op te spoor. Eienaars van mishandelde diere kan beboet word of daar kan ’n kriminele klag teen hulle gelê word.

“Die saal van die perd is nogal ’n duur item, so ek glo die eienaar sal sy saal en sy perd kom soek. Hy sal ongelukkig eers die kostes moet betaal en ons sal self ondersoek instel of die persoon bevoeg is om na die perd om te sien. Die perd is ernstig beseer en gaan mediese behandeling nodig hê. Hy sal ook nie weer gery kan word nie.”

Mario van der Westhuizen van die DBV sê die DBV wag vir die veearts se verslag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: