’n Massiewe soektog deur die polisie van Calvinia het vrugte opgelewer toe ‘n man wat vir die verkragting van ‘n dogtertjie gesoek is, in hegtenis geneem is.
Kapt. Olebogeng Tawana, woordvoerder vir die polisie in die Noord-Kaap, sê: “Die beweerde verkragting het op Sondag 19 Mei plaasgevind. Na bewering het die dogter in haar ouma se tuin gespeel toe die verdagte haar gegryp het en onder ‘n boom verkrag het. Die verdagte het van die toneel gevlug.”
Voorts sê hy: “Die slagoffer het die verdagte aan sy hare uitgeken. Die verdagte is op 22 Mei vasgetrek en sal Vrydag 24 Mei in die streekshof op Calvinia verskyn.”
Die hoof van misdaadopsporing in die Noord-Kaap, die adjunk-kommissaris vir die provinsie, asook maj.-genl. Koliswa Otola het die ondersoekspan vir hulle uitstekende ondersoek bedank. “Ons sal vir niks stop om te verseker misdadigers boet vir hulle oortredings nie,” sluit Otola af.



