Adware na bewering op Matrix Warehouse se webtuiste gevind

Anthony Meintjes, ’n verbruiker, het na bewering adware op die webtuiste van Matrix Warehouse opgespoor.

Meintjies het op 16 Mei omstreeks 18:52 ’n plasing in die Facebook-groep ZA Gaming Alliance gemaak nadat hy die programmatuurgogga opgespoor het.

“Het enigiemand ander snaakse pop-ups op die webtuiste van Matrix Warehouse gekry?” het Meintjies op Facebook gevra.

Voorts sê hy: “Ek het my rekenaar geskandeer en dit het geen goggas gevind nie. My rekenaar is skoon. Ek het die kode (van die programmatuurgogga) in bronkode gevind.”

Programmatuurgogga-kode in bronkode van Matrix Warehouse se webtuiste.

Die adware maak gebruik van ’n advertensienetwerk om ongewensde advertensies aan verbruikers te voer nadat die adware jou leser soos Chrome of Firefox oorgeneem het.

Jan Boshoff, bedryfsdirekteur van Matrix Warehouse, sê: “Ons het ’n nuwe webtuiste geloods en daar is altyd kwessies wat uitgesorteer moet word. Een van die plug-ins wat ons opgradeer het, het moontlik ons webtuiste kwesbaar gemaak. Die probleem is binne minute opgeklaar nadat dit onder ons aandag gebring is. Sover ons weet, is geen verbruikers geraak nie. Geen kliëntedata is op die nuwe webtuiste opgevang of gestoor nie, daarom het geen van ons kliënte se data in gedrang gekom nie.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *