Muishond beskuldig hy is ’n “hacker”

Mark Fletcher, Linja Allen en Craig van Rensburg

KIMBERLEY. – Linja Allen wil beskerm word, maar het self vir maande aan Whatsapp-gesprekke deelgeneem waarin Rudi Ferreira “afgeslag” is.

Dit het aan die lig gekom in die landdroshof hier tydens ’n tussentydse aansoek vir blootlegging van ’n Whatsapp-groep waarvan Allen die stigter is. Die boodskappe dui daarop dat Ferreira, FiND iT en die DFA herhaaldelik sedert Oktober 2018 op die groep bespreek is.

Interdik geopponeer

Ferreira, ’n bekende sakeman van die stad, opponeer ’n tydelike interdik wat Allen, van Northern Cape Security Solutions, teen hom ingebring het. Hy wil hê sy moet Whatsapp-boodskappe tussen haarself, polisielede, Craig van Rensburg van Emer-G-Med en ander lede van die gemeenskap openbaar.

Rudi Ferreira, Danie van der Lith (fotograaf van die DFA) en Jana Grobbelaar, redakteur van FiND iT

Allen voer aan Ferreira het in Januarie 2019 onder die skuilnaam Muishond Malan valse aantygings gemaak, onder andere omdat Muishond Malan ’n skermgreep gedeel het waar Allen met babaflaminke sit. Hy het gevra waar is die permitte vir die flaminke. Allen voer in haar stukke aan sy het met Ferreira probeer kommunikeer en hom gevra om te stop. Hy het ook vir haar ’n Whatsapp-boodskap gestuur waar hy sê hy gaan haar dagvaar dat daar van haar “f*kkol” oorbly.

Allen voer in haar hofstukke aan Ferreira mag nie kontak hê met haar, mag nie haarself of persone naby aan haar intimideer of teister óf teistering deur iemand anders aanhits nie en mag nie valse inskrywings op sosiale media maak nie.

“Die teef myself”

Riaan Bode, Ferreira se regsverteenwoordiger, sê Allen verwys in haar aansoek na ’n toneel waarop joernaliste van die aanlynkoerant, FiND iT, was. Allen het dié joernalis gevra om die toneel te verlaat. Ferreira het opgedaag en gesê sy mag nie sy joernaliste aansê wat om te doen nie en haar gedreig.

Dié insident word breedvoerig op die Whatsapp-groep bespreek. Bode voer aan dit is van kardinale belang in die saak om Ferreira te verdedig. Allen het geen reg om op polisietonele as die persoon in beheer op te tree nie. Sy mag ook nie persvryheid inperk nie.

Allen het in die Whatsapp-boodskappe gesê: “Die media daag op en word vriendelik versoek om te loop…. Find it is besig om iets te vind en dis die teef myself!”

Gebruik self vuil taal

Allen gebruik self deurlopend vuil taal, maar voel bedreig deurdat Ferreira in ’n Whatsapp-gesprek met haar die woord “f*kkol” gebruik het. Bode sê die konteks van vuil taal moet verstaan word. Allen beeld haarself uit as die slagoffer, maar praat self so.

Man in polisie

Allen voer aan Ferreira het haar onderneming skade berokken. Bode sê sy moet bewys haar onderneming is geregistreer. Bode sê Allen trek voordeel uit die inligting deur die polisie ontvang en as dit so is, dan is dit onwettig. Allen voer aan haar man, Ronsard Allen, is in die polisie en daarom is sy geregtig op polisie-inligting. Bode sê Allen trek voordeel uit die groep vir haar sekuriteitsmaatskappy en dat ’n Whatsapp-groep nie mense en maatskappye, soos ER24, FiND iT en die DFA, kan uitsluit nie.”

Groep nie privaat

Allen het vrywilliglik inligting aangestuur, saamgepraat en noem Ferreira “Rudi f*kken Ferreira”.

Daarom is dié groep nie privaat nie. Die polisie is daar om die gemeenskap te dien en te beskerm. “Die perd is reeds uit die stal. Ons het reeds die inligting, omdat iemand in die gemeenskap gevoel het Ferreira moet weet wat Allen en polisielede oor hom sê. Die persoon wat dit aan Ferreira gegee het, moet beskerm word, in die lig van die polisie-wreedheid wat ook op die groep bespreek word,” sê Bode.

“Met rubber looi”

Bode sê daar word herhaaldelik verwys na hoe polisielede mense gaan skiet en hoe hulle deur rubberkoeëls geskiet word. ’n Sekere “Roos”, wat in die polisie is, skryf hoe hulle mense met ‘rubber gaan looi’. Hy praat van hoe hy staan en kuier en dit dui daarop dat hy dit geniet om te praat oor mense skiet terwyl hy sosiaal verkeer. ’n Paar minute later lewer Allen kommentaar wat lees: “Hahahaha”, wat beteken sy geniet dit. Verder wys Bode na van die boodskappe waar Ferreira bespreek word:

Adriaan “Herlear sê: “Die helfte van die admins is vriende met die ding. Tot my eie vrou… sleep haar sommer môre egskeidingshof toe.”

Jasper: “’n Muishond het my natgepiepie toe ek in st. 6 was. En ek het tot in st. 7 gestink. Raak ontslae van jou vrou as sy sulke goed as troeteldiere aanhou.

“Vir maande lank het sy oor mnr. Ferreira op ’n neerhalende manier en met vuil taal gepraat en nou wil sy beskerming hê?” vra Bode.

Dui op verdere teistering

Mark Fletcher, Allen se regsverteenwoordiger, sê Ferreira is op ’n “visvangekspedisie en die aansoek dui op verdere teistering”. Fletcher het gesê hy is “oortuig” Ferreira het die inligting deur middel van kuberkraking bekom. Landdros Celeste Nameka het hom daarop gewys dit is slegs ’n aanname, aangesien hy dit nie kan bewys nie.

Vervolg self polisie

Fletcher het Ferreira genooi om ’n kriminele klag by die polisie teen die polisielede in te dien. “Ek kan ’n massa-moordenaar wees, maar ek het steeds die reg om beskerm te word teen intimidasie en teistering. Wanneer ek by ’n privaat Whatsapp-groep aansluit, dan neem ek aan dit is privaat en niemand gaan deel wat daar gesê word nie.” Fletcher sê almal het net “grappies” gemaak.

Mag nie intimideer, al vloek sy

Hy sê net omdat Allen vuil taal gebruik, is geen rede vir Ferreira om haar dan met vuil taal te intimideer nie.

Hy het Ferreira gewaarsku om versigtig te wees watter aannames hy maak, want “almal kan klippe gooi. Wees versigtig wat jy begin.”

Privaatheid van polisie

Fletcher sê die privaatheid van die mense op die groep is belangrik. “Wat help dit jy bring die polisielede hof toe? Dan moet hy sê: ‘ja, ek het dit gedoen’. En dan? Niemand kan dit keer dat die inligting na die polisie uitgelek word nie. As iemand anders ’n probleem het, dan is dit so. Dit het niks met die saak te doen nie.”

Kan skermgreep aanstuur

Landdros Nameka het Fletcher gevra of dit so is as jy op Facebook ge”tag” word, jy dan die geleentheid het hom te sê dat dit moet afgehaal word. Maar in die Whatsapp-groep kon enigiemand sê net wat hulle wil. “Enigiemand kan ’n skermgreep neem en dit aanstuur.”

Fletcher sê die persoon wat die inligting aangestuur het, het self die privaatheidreëls oortree. “Ons wil weet wie dit is.” Hy sê almal is geregtig op opinies en jy mag in ’n privaatgroep sê net wat jy wil.

Dui op aanhitsing?

Landdros Nameka het gevra as iemand “afgeslag” word of bespreek word in so ’n groep, dui dit nie op aanhitsing nie? “Die kliënt wil beskerm word, maar dit lyk nie of haar lewe bedreig word nie. Van die inskrywings (op die groep) kan gesien word as lewensbedreigend en iemand op die groep het gevoel hy moet daarvan weet.”

Fletcher wou weet hoekom het dit die persoon so lank geneem om Ferreira daarvan in kennis te stel. “Baie van die ander mense op die groep het baie meer afbrekende goed van Ferreira gesê”.

Bode hou vol dié groep is nie ’n privaat groep nie e enigiemand kan die inligting bekom. Daar is meer as 20 lede op die groep. Hy sê Allen is nie die slagoffer nie en dit kan bewys word deur hoe sy Ferreira al sedert Oktober 2018 openlik bespreek.

Landdros Nameka sal Woensdag uitspraak maak of die Whatsapps in die verhoor gebruik mag word.  

*Craig van Rensburg, van Emer-G-Med, het intussen ook ’n aansoek gebring nadat Ferreira hom glo op ’n ongelukstoneel gedreig het deur te sê hy is ‘n “prinses”.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *