Inwoners van Holpan net buite Barkly-Wes het die verkiesing op stemdag ontwrig nadat die kerksaal gesluit is uit protes oor ontevredenheid met dienslewering in die area.
Brig. Mohale Ramatseba, provinsiale hoof van kommunikasie vir die polisie, sê: “Sommige ontevrede inwoners het mense verhoed om die stemlokaal by ’n kerksaal te besoek. Die polisie het ingegryp en die groep betogers vanaf die geslote hek verdryf. Daarna het die verkiesing in Holpan onder die bewaking van die polisie na normaal teruggekeer.”
Voorts sê hy: “Klagtes is by die Windsorton-polisiekantoor ingegedien. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.”
Die provinsiale kommissaris vir die polisie in die Noord-Kaap, lt.-genl. Risimati Shivuri, het die inwoners van die provinsie vir hulle samewerking tydens die verkiesing bedank.



