“Ek is ’n dwelmverslaafde in rehab”- Juan Deel 3

Deel hierdie storie / Share this story

“Dit gaan goed met my,” sê Juan van Rensburg (36) wat sedert 11 Februarie 2019 in die Noupoort-rehabilitasiesentrum is.

Na jare se verslawing het Juan en sy sussie Ellouise van Rensburg (33) saam breekpunt bereik en op 10 Februarie besluit dat dinge nie verder so kan aangaan nie.

Juan erken hy moes die eerste paar weke hard teen die onttrekkingsimptome baklei en dat dit vir hom ‘n groot aanpassing was.

Sy tydperk daar sover

In die 13 weke wat Juan daar is, moes hy al 130 skape oppas, varke kos gee en gesorg het dat die hokke skoon is.

Juan is na agt weke na die plaashuis geskuif, wat steeds deel vorm van Noupoort en van hulle program.

Ongeveer drie tot vier weke na pasiënte in die sentrum ingeboek is, word hulle vanaf die sentrum na die plaashuis geskuif waar hulle ‘n geruime tyd bly. Daarna word hulle weer na Midelton geskuif. Dié sentrum is vir al die “nuwe” verslaafdes. Daar is dus verskillende fases op die herstelpad.

Wat doen hy nou?

Hy is nou in beheer van die besproeiingstelsel. Elke inwoner kry ook ‘n beurt om mieliepap in die plaashuis te maak en daar word ook gereeld Bybelstudie vir hulle gehou. Elke persoon daar is verantwoordelik om die huis ten alle tye skoon en netjies te hou. “Noupoort het zero tolerance vir lui mense.

Juan het tans met opleiding as ‘n projekleier begin wat ongeveer twee weke lank duur. “Dit is iets om na uit te sien en iets om voor te werk,” vertel Juan.

Hy spandeer sy dae op die trekker terwyl hy die koollanderye ploeg sodat daar nuwe kool geplant kan word.

Hoe lank nog?

Juan is reeds al vir afgelope 11 weke by die sentrum en moet vir nog 41 weke daar bly. Sy behandeling duur dus 52 weke.

Juan deel elke week sy pad na herstel uit die rehabilitasiesentrum met ons lesers.