Ek is verkrag en het oorleef

Die voorkoms van seksuele geweld in Suid-Afrika is van die hoogste in die wêreld. Seksuele geweld is die gebruik van geweld of manipulasie om iemand sover te kry om mee te doen aan ongewenste seksuele aktiwiteite sonder hul toestemming.

Volgens Wikipedia wys statistieke dat gedurende 2015/16 daar 51.895 misdade van ‘n seksuele aard by die Suid-Afrikaanse Polisiediens gerapporteer is. Dit sluit die enorme aantal vrouens wat dit nie rapporteer nie, uit.

FiND iT gesels met ‘n leser, wat anoniem wil bly, oor hoe verkragting haar lewe verander het.

Onskuld gesteel

“Ek is op 15 deur my oupa gemolesteer. Ek het vir ’n tyd by my ouma en oupa gaan kuier. Elke keer wat ek badkamer toe gegaan het, het hy ingestap en gevra ek moet opstaan. Ek het elke keer geweier. Die deur kon ongelukkig nie sluit nie. Hy het een dag weer ingestap en my teen die badkamerkassie vasgedruk en gemolesteer. “

“Twee jaar later, op 17, is ek deur ’n groep mans verkrag. Ons het die aand as ’n groep vriende uitgegaan. Ek het kar toe geloop om my foon uit die kar te gaan haal. Hulle het my vasgepen en my verkrag. Ek was so deurmekaar en kon net twee van die mans se gesigte onthou. My vriend het my kom soek en my langs die kar se wiel gekry. Hy het onmiddellik met my hospitaal toe gejaag.”

Te bang om ’n saak te maak

“Ek het nie ’n saak teen my oupa gaan maak nie. Ek wou my ouers die verleentheid spaar en ek was ook bang vir wat die res van die familie sou sê.”

“Ek het wel ’n saak gemaak toe ek 17 was, nadat ek amper ’n maand in die hospitaal was. Die polisie was by my in die hospitaal, maar ek was te verward om ’n verklaring af te lê.”

Die nagevolge

“Ek het my oupa gehaat en wou nie meer saam met my ouers daar gaan kuier nie. Ek wou nie eers sy begrafnis bywoon nie. Ek het my ma vertel en sy het verstaan. Sy het hom gekonfronteer, maar teen daai tyd was hy al so deurmekaar van al die medikasie dat hy niks kon onthou nie.”

“As gevolg van die verkragting het ek myself begin verwyt. Ek het gevoel asof ek iets verkeerd gedoen het. As ek nie my foon gaan haal het nie, sou dit nooit gebeur het nie. Ek het al ’n paar keer my eie lewe probeer neem. Ek het vuil gevoel. Ek het gevoel almal kyk my snaaks aan. Ek het later begin voel dat elke liewe man my as ’n maklike teiken sien. Ek het myself elke dag in die huis toegesluit. As gevolg van die verkragting kan ek ook nie kinders kry nie. Ek wou altyd baie graag kinders hê en nou kan ek nie. Ek moes gaan vir berading. Ek het alleen en waardeloos gevoel.”

Boodskap aan ander

“Ek sal graag vir elke liewe ander vrou wil sê: Staan op vir jouself. Baklei vir wat reg is. Moenie skaam voel oor wat met jou gebeur het nie. Dit is nie jou skuld nie. Gaan maak ’n saak, of dit nou familie of ’n vreemdeling is. Moenie die fout maak wat ek gemaak het nie en self daardeur gaan nie. Gaan praat met iemand en kry dit van jou skouers af. Gaan sien ’n ondersteuningsgroep. Jy is nie alleen nie. Ek het gereeld praatjies gaan bywoon en vir mense my storie vertel. Dit het baie gehelp om van al die woede in my ontslae te raak. Verkragting is baie sleg, maar jy kan sterker aan die anderkant uit kom. Moenie gaan lê nie. Dit is jou lyf. Net jy het die reg om te sê wie aan dit mag raak en wie nie. Beskerm jouself deur te baklei vir jouself.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *