Ford SA maak plan met swak slot wat boewe teiken

Deel hierdie storie / Share this story

Ford-eienaars met Fiesta- en EcoSport-voertuie wat geraak word, kan teen die einde van die week terugvoering vanaf Ford Suid-Afrika verwag.

Dit volg nadat Ford-eienaars vroeër die maand op sosiale media beswaar gemaak het teen die toename in motorinbrake waartydens boewe die slotte van sekere ouer modelle van die Fiesta en EcoSport teiken.

“By Ford is ons kliënte se veiligheid en sekuriteit van uiterste belang. Daarom is ons ernstig oor die sekuriteit van ons voertuie. Ons is bewus van die kwessie. Ons het vroeër in die week inligting uitgestuur oor die moontlike sekuriteitsrisiko van sekere ouer Fiësta- en EcoSport-modelle. Ons sal teen volgende week op 3 Mei begin om ons kliënte te kontak wat geraak is hierdeur,” verduidelik Minesh Baghaloo, woordvoerder van Ford Suid-Afrika.

Voort sê hy: “Oplossings gaan teen kosprys aan kliënte gebied word. Omrede die probleem met die slot nie ’n ontwerp- of fabrieksfout is nie, kan Ford SA ongelukkig nie die oplossing gratis lewer nie. In die meeste gevalle wat aan ons gerapporteer is, gaan die alarm nie af wanneer daar met die slot gepeuter word nie. Ons het verskeie oplossings getoets wat ons glo ons kliënte gemoedsrus sal gee.”

So beplan Ford om die slotprobleem op te los:

  • Herkonfigurasie van die alarm sodat dit afgaan wanneer met die slot gepeuter word of dit met die sleutel oopgesluit word.  Kliënte kan vanaf 6 Mei afsprake vir hierdie oplossing teen ’n koste van R155.25 maak.
  • Kliënte wat hulle stukkende deurslotte moet vervang, sal nie meer as R1 199 betaal nie.
  • Fiësta Ambiente-eienaars wie se voertuie nie ’n alarm het nie, kan aan die einde van Mei begin om afsprake te maak om ’n alarm teen ’n koste van R1 886 te installeer.
  • Ford ondersoek ’n bykomstige sekuriteitsopgradering vir die geaffekteerde slotte, wat dit slegs moontlik sal maak om die voertuig met die key-fob of ‘Hykee’-meganiese sleutel oop te sluit. Dit is vir die Europese mark ontwikkel, maar kan hier vir die Fiesta- en EcoSport-modelle werk. Verdere inligting sal later aan ons kliënte bekend gemaak word.

“Ford is toegewyd om die beste diens te lewer. Ons vra om verskoning vir enige ongerief veroorsaak. Kliënte wat bekommerd is, kan Ford se kliëntediens by 086 001 1022 skakel of op sosiale media kontak,” sluit Bhagaloo af.