“Na 20 jaar is dit nou my tyd!” – Tania

Tania Markgraaff (37) het vir jare lank haar droom opsy gesit vir ander mense. Op 27 April gaan sy haar droom van 20 jaar bewaarheid wanneer sy aan die Bloem Classic 2019 in Bloemfontein deelneem.

Tania, wat grootgeword het in Kimberley, was nog altyd lief vir sport en kom ook uit ‘n groot sportfamilie. Op 17 het die gymgogga haar gebyt en dis waar haar droom, om op ‘n verhoog te klim, begin het. “Vandat ek kan onthou, het ek fitness-tydskrifte gekoop en geweet dit is wat ek graag sal wil doen,” vertel sy.

Haar droom moet wag

Tania is jonk getroud en twee kinders, Brendon (6) en Ammelie (5), is uit die huwelik gebore. Haar droom moes eers wag toe sy sak en pak saam met haar gesin oorsee trek om haar man in sy rugbyloopbaan te gaan ondersteun.

Ongelukkig het die huwelik nie uitgewerk nie en is sy in Maart 2017 geskei. “Dit was ‘n baie moeilike tyd in my lewe. Ek het teruggekom Kimberley toe, ‘n besigheid gekoop, op my oom se jagplase gewerk en alles moontlik gedoen om finansieel sterk genoeg te wees om vir my kinders te kan sorg. Die lewe was weer eens net te besig vir haar om te doen wat sy vir so lank al wou doen.

Sy kry ‘n teken

Een oggend het Ammelie se juffrou, Judy Kruger, vir Tania gesê sy glo aan die “elfde gebod”.  “Dit beteken om jou eie gat te red,” vertel Tania.

Net daar en dan het Tania besluit dis tyd dat sy haar eie gat moet red. Dis tyd dat sy moet doen wat haar gelukkig maak. “Vir jare het ek ander mense s’n gered en ek het almal behalwe myself eerste geplaas. Ek het ook besef ek raak nie jonger nie.”

Tania vertel die duiwel het al ‘n paar keer probeer om haar te laat twyfel in haarself. Goed soos “Is ek mooi genoeg? Jy kan dit nie doen nie. Jy is nie sterk genoeg nie. Daar is beter as jy,” het menige kere deur haar kop gegaan.

Ongeag al die negatiewe goed het Tania besluit sy gaan klou aan die droom “soos ‘n varkhond aan ‘n stuk vleis,” lag sy.

Droom word ‘n realiteit

Op 7 Februarie het ‘n senuweeagtige Tania voor die vrou wat haar gaan help om haar droom te bewaarheid, Hende-Marie Strydom, ‘n Pro Fitness-atleet, gesit. “Ek het besef daar is nie omdraaikans nie.”

Hende-Marie is ‘n lewensafrigter (life coach) en soek nie net meisies wat mooi wil lyk in ‘n bikini vir een vakansie nie. “Sy soek meisies wat hulle leefstyl wil verander, wat wil commit en hard wil werk,” vertel Tania.

Sy kan ook met trots sê sy is slegs een van twee atlete wat Hende-Marie tot dusver gehelp het.

Chantelle van Zyl, Tania se inspirasie, is die ander atleet wat ook deur Hende-Marie afgerig was. Chantelle is ook ‘n voormalige wenner van die Bloem Classic.

Tania is huis toe met ‘n eetprogram en pille. “Ek moes na drie weke vir my eerste opvolg gaan en het 3% liggaamsvet en 11 cm verloor. Ek het spiermassa bygekry en my gewig was presies dieselfde,” vertel sy trots. “Ek wil ‘n verskil maak, ek is hier om te bly.”

Tania het slegs agt weke gehad om vir die kompetisie voor te berei. Tussen deur moes sy vir 33 dae detoks om van al die verkeerde gifstowwe in haar liggaam ontslae te raak.

Mense vra gereeld vir Tania of sy enige pille (steroïde) drink of haarself inspuit. “Ek kan met eerlikheid sê alles wat ek gebruik is 100% natuurlik. Daar gaan geen verkeerde goed in my liggaam nie”

Struikelblokke

Tania bieg sy het ‘n verlede van anoreksie waar sy maar ‘n skrale 48 kg geweeg het. “Eet was vir seker een van die grootste uitdagings in die proses. Kos was in ‘n stadium my grootste vyand, nou moes dit my beste vriend word. Ek het gebid en die Here gevra hoe ek my droom gaan volg met die berg kos wat elke dag voor my lê?”

Sy vertel dat vrouens, insluitend sy in haar anoreksietyd, ‘n wanpersepsie het van kos en water. “Mense dink as hulle eet, maak dit hulle vet.”

Oefen- en eetprogram

Alhoewel Tania baie van haar tyd in die gym deurbring, verg dit baie meer dissipline as om net te gaan oefen. “Ek eet ses keer ‘n dag en sorg dat ek genoeg water drink.”  Haar eetprogram bestaan uit wat mens noem “clean eating” wat uit groen groentes en vrugte, vis, hoender en eierwitte bestaan.

Die laaste week voor die kompetisie het baie spanning op Tania se liggaam gesit en vandag (Vrydag), sê sy: “Ek stop vanmiddag 13:00 met alle vloeistowwe. Ek mag slegs my mond met mondspoelmiddel uitspoel. Vanaand drink ek ‘n glas rooiwyn om te help dat die are in my lyf definisie kry en more eet ek ‘n pak sout en asyn skyfies ‘n uur voor ek opgaan.”

Die senuwees knaag en sy het ook al baiekeer getwyfel, maar “die Here en Hende-Marie dra my baie.”

Die kompetisie begin Saterdag 17:00 by die skougronde in Bloemfontein waar Tania aan die  bikini line up gaan deelneem.

Hierdie is sekerlik nie die laaste keer nie en Tania begin net na die kompetisie voorberei vir die nationals wat in September plaasvind. “Ek sal graag aan die fitness bikini line up wil deelneem.”

Tania se raad

Volgens Tania is dit nie ‘n goedkoop sport om aan deel te neem nie, maar beslis die moeite werd. “Spesiale skoene wat jou spiere ‘n sekere manier druk, moet gekoop word. Hare, grimering, en spraytan moet gedoen word. Bikini moet gekoop word en dan praat ek nie eers van al die voorbereiding soos die kos en pille nie.”

“As jy dit wil doen, moet jy dit reg doen en sorg dat jy finansieel in staat is om dit te kan doen. Sorg ook dat jy ‘n goeie ondersteuningsnetwerk het. Dit is ‘n baie jaloerse industrie waar vrouens jou nie iets gun nie. Jy kan net nooit mooi genoeg wees nie. Mense kies eerder om te oordeel as om begrip te hê vir waardeur ek alles moes gaan om vandag hier te kan wees.”

1 thought on ““Na 20 jaar is dit nou my tyd!” – Tania

  1. Jy is ‘n stunning vrou en ek beny jou deursettingsvermoë. Jys pragtig want die Here maak net als wat mooi is. Dit is vergelykings wat als lelik maak.
    Wow. Ek het nie veel meer woorde as om te sê jy is ‘n wenner in my oë en is seker ek praat vir baie ander mammas…wel gedaan!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: