Breek die stigma oor geestesgesondheid

FiND iT gesels met Marike Jardim oor geestesgesondheid en haar stryd met depressie.

Aan watter geestesongesteldheid ly jy?

“Ek het major depressive disorder wat kroniese depressie is. Dit is ‘n erenstige vorm van depressie. Dit is nie iets wat nou en dan kom en gaan nie. Dit is ‘n toestand waarvoor ek kronies medikasie moet gebruik. Dit is ’n chemiese wanbalans in my brein. Ek het ook angs en kry nou en dan paniekaanvalle.”

Wanneer het jy besef jy is anders?

“Anders” is vir my half ook ’n stigma, maar ek het besef dat ek anders is toe ek baie klein was. Ek het gesukkel om graad R toe te gaan omdat ek sosiale angs gehad het. Ek het van ‘n baie jong ouderdom af begin voel dat daar definitief iets fout is met my. Ek het afgesonder van die wêreld gevoel.”

“Die eerste keer wat ek depressief gevoel het, was toe ek in graad 8 of 9 was. Ek wou vir ‘n modelkompetisie inskryf, maar in daardie stadium wou my ouers my beskerm, dus is ek nie toegelaat om in te skryf nie. Ek het op die bank gaan lê en kon nie beweeg nie, ek was gevoelloos. Dit was die eerste keer wat ek aan myself erken het daar is iets fout met my.”

Het jy gegaan vir hulp?

“Ek het die eerste keer uitgereik na hulp toe ek in graad 10 was. Ek het ’n sielkundige gaan sien. Sy het my ’n klomp vrae gevra en toe diagnoseer sy my met depressie. Ek is die eerste keer toegelaat om medikasie te gebruik toe ek 18 was. Ek het drie jaar gelede weer in ’n gat geval en het ’n sielkundige hier in Kimberley gaan sien. Sy het my toe verwys na Bloemcare, waar ek ook ’n sielkundige en psigiater gesien het.
Ongelukkig is dit nie iets wat ooit genees kan word nie. Dit is iets waarteen mens elke dag moet veg.”

Gebruik jy medikasie?

“Ek is in hierdie stadium op medikasie. ‘n Paar verskillende soorte medikasie het nie vir my gewerk nie, maar ek het nou medikasie gekry wat vir my werk. Die beste vir my is om medikasie te gebruik. Ek het egter ’n eksperiment wat ek graag wil probeer. Die idee is om my medikasie te los en net cannabistee te gebruik. Baie depressielyers sê dat dit vir hulle goed werk en verskriklik baie help. “

Hoe hanteer jy dit?

“Om eerlik, oop en rou te wees, hanteer ek dit nie so goed nie. My medikasie hou my aan die gang. As ek dit nie die dag gedrink het nie, kan ek onmiddellik die verskil voel. Ek raak angstig. Ek is geseën met n wonderlike man wat my ten volle ondersteun en hy weet presies hoe om my te hanteer as ek ’n episode of n paniekaanval kry. Hy sal dit rustig saam met my hanteer. Wat my ook aan die gang hou, is om te onthou hoekom ek lewe en waarvoor ek lewe. Deur te dink aan die mense vir wie ek lief is. Dit is my manier om deur dit te kom.”

Wat is vir jou die moeilikste gedeelte?

“Ek sal sê die moeilikste gedeelte hiervan is die alleenheid, om alleen te voel. Om te voel dat jy nooit normaal kan voel of funksioneer soos ander mense nie. Om te voel dat jy die wil het , maar nie die krag het om uit die bed uit op te staan nie. Dat jy min in jouself glo om sekere dinge te bereik. Dat jy fisies ook siek raak, jou immuunstelsel raak laag, jy kan nie opstaan nie, jy voel siek.
Die meerderheid mense verstaan nie depressie nie, want hulle het nie depressie nie. So mense verwag mens moet net oor dit kom. Dit is nie iets waaroor mens net kan kom nie. Dit is ook vir my uitermate sleg dat wanneer ek ‘n episode het, ek daai las op die mense sit waarvoor ek lief is. Mens voel baie skuldig daaroor.”

Behandel mense jou anders wanneer hulle hoor?

“Dit is altyd lekker om met mense te gesels wat deur dieselfde gaan, want dit is goed om te weet jy is nie alleen nie.
Die mense wat nie depressie verstaan nie, sonder hulle gewoonlik van jou af sodra hulle hoor jy het depressie, of hulle dink jy is mal. So ja, ek sal sê daar is definitief mense wat my anders hanteer. “

Wat sal jy vir ander mense wil sê wat met dieselfde sukkel?

“Vir die mense wat met depressie, angs, bipolêre depressie of enige tipe psigiatriese probleem sukkel, sal ek graag wil sê: jy is so sterk. Moenie dat jou geestestoestand jou beheer nie, dit is jou lewe. Moenie dat jou brein jou ontneem van dit wat jy wil bereik nie. Dit is moeilik en dit is iets waaroor mens nie beheer het nie, maar weet net dat jy nie alleen is nie. Jy is definitief nie mal nie. Jy gaan dit maak en jy gaan deurdruk. Môre is dalk net die dag wat jy alles bereik wat jy nog altyd wou gehad het. Kyk mooi na jouself, want jou geestesgesondheid is net so belangrik soos jou fisiese gesondheid.”

“My gunstelinggesegde is “Mental illness won’t kill me, I’ll kill it with success, marriage and beautiful kids. I’ll kill it with fresh air and ice cream. I’ll kill it with cats’ cute whiskers and grass under my feet. I’ll kill it.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *